MOSSELBAAI NUUS - Een man, Siyabulela Demeshana (35) is dood en 'n ander ernstig beseer na nóg 'n boendoehofvoorval, hierdie keer in Aslapark.
Volgens bevestigde inligting het die twee mans op Sondagoggend, 20 Mei omstreeks 11:20 buite 'n huis in Stuurmanstraat gesit en drink toe hulle oor sigarette stry gekry het.
Een van die mans het opgestaan, 'n mes in die huis gaan haal en die ander man 'n noodlottige steekwond in die bolyf toegedien.
Lede van die KwaNonqaba-polisie is na die toneel ontbied om die klagte ondersoek. Toe die voorval egter rugbaar word, het die gemeenskap oproerig geraak en probeer om die man wat van die moord verdink word, aan te val.
'n Vrouelid van die polisie, die beskuldigde en dié se vrou is in die beskuldigde se huis vasgekeer terwyl die woedende skare die huis aangeval het. Drie ander lede van die KwaNonqaba-polisie moes die malende massa mense van tot soveel as 300 probeer beheer terwyl op versterkings gewag is.
Polisielede van ander polisiestasies in die groter Mosselbaai, en uiteindelik die openbare orde-eenheid van George het opgedaag om die skare, wat geen gehoor gegee het aan nooddienspersoneel nie, tot bedaring te bring.
'n Waarskuwingskoot moes afgevuur word om die gemoedere tot bedaring te bring voordat die beseerde verdagte tot by 'n hospitaal gebring kon word.
Die woedende skare het die deur na die beskuldigde se huis afgebreek en dele van die huis gevandaliseer.
Dié lede van die KwaNonqaba-polisie moes 'n woedende skare daarvan weerhou om 'n verdagte wat van moord verdink word, dood te maak.
Volgens omstanders het die massa mense bo-oor die lewelose liggaam van die slagoffer getrap in hul poging om by die beskuldigde te kom om hom aan te rand. Ambulanspersoneel en ander nooddienste is toegang tot die perseel, die slagoffer en beseerdes geweier.
Die beskuldigde is ernstig aangerand. Hy het meswonde opgedoen en is met klippe gegooi. Die beskuldigde is na 'n plaaslike hospitaal geneem waar sy toestand gestabiliseer is voordat hy later Sondagaand per lugambulans na 'n hospitaal in George vir behandeling oorgeplaas is.
Enige persoon met inligting oor die voorval word versoek om die ondersoekbeampte, sers Dominique Deuster, 079 893 9931 of 044 606 5600) te kontak. Alle inligting sal streng vertroulik hanteer word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'