MOSSELBAAI NUUS - "Ken die noodnommers, hou jou deure gesluit, hou jou veiligheidshekke toe en wanneer jy deur 'n inbreker gekonfronteer word, bly kalm."
Dit is die boodskap van 'n inwoner van Mosselbaai, die 73-jarige Jacobus Geldenhuys, nadat hy onlangs uit noodweer 'n inbreker by hul woning in 18de Laan, Mosselbaai geskiet het.
Jacobus en Elize (66) het op Donderdagmiddag, 21 September vanaf Voorbaai teruggekeer en was besig om 'n koppie tee in hulle woonstel, agter die hoofhuis te drink, toe 'n 28-jarige man by die woonsteldeur probeer inbreek.
Die Geldenhuyse was onbewus dat die verdagte reeds by die hoofhuis, waarin Elize se dogter woon, ingebreek het en volgens kringtelevisiekameras, minstens agt minute in die huis spandeer het.
Die Mosselbaai-polisie se woordvoerder, ao Pieter Koekemoer sê die verdagte het slegs 'n piesang in die slaapkamer van die hoofhuis geëet, maar niks gevat nie.
Agressief
Die verdagte het daarna aan die woonstelvenster geklop, by die buitedeur gestaan en was volgens Jacobus agressief.
"Ek het uitgegaan om by die buitedeur met hom te praat en hy het daarop aangedring dat hy wou inkom. Ek het dadelik besef, hier is moeilikheid.
"Toe ek die buitedeur toemaak het hy die deur begin skop en die woonstelvenster met 'n klip stukkend geslaan. Al wat deur my kop gegaan het, is dat ek hom moet wegkry en myself en Elize moet verdedig."
Die verdagte het daarna oor 'n palisadehek aan die kant van die woonstel geklim en om die woonstel gestap.
Elize het intussen 'n .32 klein kaliber pistool uit die kluis in die woonstel gehaal en vir Jacobus aangegee.
"Ek het uitgestap en vir hom gevra om te loop, maar toe begin hy my met Elize se tuingrafie waarmee sy vroeër tuingemaak het, aanval. Ek het hom gewaarsku dat ek gaan skiet en het twee waarskuwingskote in die muur afgevuur.
"Hy was bitterlik agressief, het aangehou om my met die tuingrafie aan te val en toe skiet ek hom een keer in sy been onder sy knie.
"Ek het hom spesifiek daar geskiet want ek wou hom immobiliseer dat hy my nie kan leed aandoen nie."
Polisie
Elize het intussen die polisie gebel.
Met die polisie se aankoms is die ambulans gekontak waarna die verdagte na die Mosselbaai provinsiale hospitaal geneem is.
Hy is vir vyf dae onder polisiebewaking vir sy beserings behandel.
Volgens ao Koekemoer was die verdagte vroëer die Donderdag ook na bewering in die Mosselbaai provinsiale hospitaal vir beserings wat hy tydens 'n onbekende voorval opgedoen het.
"Hy het homself egter ontslaan waarna hy by die woning in 18de Laan ingebreek het."
Die verdagte het op Donderdag, 28 September in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op 'n aanklag van huisbraak- en diefstal, poging tot huisbraak- en aanranding.
Intussen is 'n saak van poging tot moord teen Jacobus geopen.
Hoewel Mosselbaaiers Jacobus prys dat hy kopgehou het, sê Elize, die voorval het beslis nie net aan hulle klere gaan sit nie.
"Wie wil nou 'n aanklag van poging tot moord teen jou hê? Dis nie lekker nie. Net so min soos dit lekker sou wees om sy (die verdagte) se lewe te neem," sê Jacobus.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'