MOSSELBAAI NUUS - "Ek is kwaad, gefrustreer, woedend, sê 'n winkeleienaar in die middedorp van Mosselbaai."
Nou met die beurtkrag in die aande, is die situasie nog meer gevaarlik.
Die haweloses wemel hier rond en bedel, terroriseer en vloek mense wat ons winkels besoek." Die eienaar het vir Mossel Bay Advertiser verskeie voorvalle op kamera gewys waar die haweloses mense lastig val en waar hulle gevra word om die area voor die winkel te verlaat.
Mossel Bay Advertiser het met besigheidseienaars en inwoners gesels, nadat 'n inwoner van die dorp, Craig Ferreira, twee keer in April onder aanvallers deurgeloop het. Ferreira is aangeval terwyl hy in sy motor gesit en op die foon gepraat het. By 'n ander geleentheid is sy motor beskadig en die bestuurder van die eetplek se motorbande is gesny. Ferreira voel dat dit nie meer veilig is vir niksvermoedende besoekers om in die aand eetplekke in veral Marshstraat te besoek nie.
'n Ander inwoner vertel dat sy al vyf jaar in die dorp bly en dat die veiligheidsituasie die afgelope drie maande baie agteruitgegaan het. "As die son begin sak, kan jy nie meer alleen in die donker stap nie."
Bendes
Die eienaar van 'n restaurant, Pieta se plek, Pieta Ryan, vertel dat daar nou hordes straatlêers is. "Met beurtkrag word dit net meer gevaarlik. Hulle bevuil die sypaadjies in die nag en ek moet hul gemors voor my besigheid skoonmaak. Die verkoop en gebruik van dwelms is die grootste probleem. Dit word helder oordag gedoen. Ons het dit al onder die polisie se aandag gebring. Die situasie maak dit nie meer winsgewend om hier 'n besigheid te bedryf nie.
"My vrou en dogter weier om hierheen te kom en ek bestee nou minder tyd saam met my gesin, want ek moet my besigheid oppas. Hoewel daar patrolleerders is, is hulle ook weerloos teen aanvalle. Ek voel daar moet meer moeite gedoen word om die belastingbetalers van die dorp veilig te hou om hul besighede te bedryf. Die munisipale wetstoepassers moet weer orde skep en die publiek beskerm. Ek kan nie glo dié gedrag en wanorde word toegelaat op Mosselbaai nie. Ons het sekerlik ook regte, nie net die haweloses nie."
'n Inwoner wat anoniem wil bly, sê dat die 28's bende, oorspronklik van Oudtshoorn, na bewering in die dorp werksaam is en dwelms beskikbaar maak aan die leeglêers om te verkoop. "Die situasie is regtig gevaarlik en voordat die dwelmbedrywighede nie gestop word nie, sal die veiligheidsituasie nie verbeter nie."
Wetstoepassers terugvoer
Volgens 'n woordvoerder van die Sentrale Besigheidsdistrik (SBD) wat anoniem wil bly, is hul hande afgekap om enige aksie teen haweloses te neem, behalwe as hulle 'n misdaad pleeg. "Ek sien elke dag tydens ons patrollies mense wat in parkeerareas in die dorp opeindig.
"Hulle kom na Mosselbaai omdat hulle hoor dit is die land van melk en heuning. Hulle kry nie werk nie, kan nie blyplek bekostig nie en beland op straat en word deel van 'n groter-wordende probleem. Ons moedig die publiek aan om voorvalle van aanranding, intimidasie en teistering by die polisie aanhangig te maak, sodat daar opgetree kan word teen die oortreders."
Voorsitter van die Onderdorp Buurtwag, Lindie Edwards sê: "Ons werk nou saam met ons vennote in sekuriteit, ongeag of dit die polisie, munisipale wetstoepassing-beamptes, of enige ander instansie wat betrokke is by gemeenskapsveiligheid, wat binne die wetlike raamwerk van die Grondwet van Suid-Afrika optree.
"Ons werk ook nou saam met geregistreerde liefdadigheidsorganisasies, om daadwerklike rehabilitasie te bewerkstellig. Ons moedig inwoners aan om kriminele aktiwiteite aan te meld, en deur te sien tot vervolging in die hof, sodat misdaadstatistiek ‘n akkurate weerspieëling van die werklike stand van sake reflekteer."
Voorsitter van die Mosselbaai Besigheidskamer, Albert Wiffen bevestig dat dit 'n probleem is. "Ons moedig mense aan om eerder vir instansies geld en goedere te gee, as vir mense self."
Mossel Bay Advertiser het die berig voorgelê aan die woordvoerder van die Mosselbaai-polisie. Hy het aangedui dat die polisie teen volgende week terugvoer sal gee oor die misdaadsituasie in die middedorp.
Foto's: Alet Engelbrecht
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’