MOSSELBAAI NUUS - Die Eybers-gesin van Mosselbaai is onlangs deur diep waters. Henry (41) en Leané (34) het beide verlede jaar in Augustus Covid-19 opgedoen. Die paartjie bedryf saam 'n besigheid wat spesialiseer in tweerigtingradio's en het drie jong seuns.
Boonop ontvang die kinders tuisonderrig by Leané en moet sy dus ook in daardie hoedanigheid haar skoene vol staan. Hulle woon reeds drie jaar op Mosselbaai.
Min het Leané egter verlede jaar geweet wat op haar en haar gesin wag.
Covid-19
Sy en Henry was beide baie siek met Covid-19 en moes beurte maak om mekaar te probeer versorg. Die kinders het ook siek geword en die gesin het tuis geïsoleer.
Leané het die ambulans gekontak toe Henry se suurstofvlak bly daal en hy onsamehangend praat.
Henry is ses dae nadat hy en Leané met Covid-19 gediagnoseer is in die George-provinsiale hospitaal met Covid-19-longontsteking opgeneem. Ten tye van sy opname was sy suurstofvlak volgens Leané slegs 10 en is hy dadelik aan 'n ventilator gekoppel.
Henry was vir 19 dae in 'n koma en Leané moes in 'n japtrap leer hoe om sy verantwoordelikhede binne die besigheid oor te neem.
"Ek het altyd die administrasie behartig, maar moes in 'n kwessie van vier dae leer hoe om Henry se werk te doen. Ek het nooit gedink ek sal dit kan doen nie, maar ek het en die besigheid het staande gebly."
Sy en die kinders was bekommerd oor Henry maar moes aangaan met hulle daaglikse lewe.
Bedseer
Hulle kon Henry ook nie in die hospitaal besoek nie en kon slegs oor die telefoon met hom gesels.
"Terwyl hy in 'n koma was, het die susters die foon op sy rug neergelê en dan het ons hom moed ingepraat."
Henry het 19 dae later uit sy koma ontwaak, maar moes weer van vooraf leer loop en praat. 'n Lang pad van herstel het op hom gewag.
Hy is einde Oktober, 2021 huis toe, maar het 'n ernstige bedseer in die hospitaal opgedoen. Leané moes leer hoe om die wond, wat steeds nie volkome genees het nie, te behandel.
"Ek het groot in gebed getree en het met die Here gepraat. Dit is al wat ons gesin hierdeur gedra het, ons geloof."
Gedurende daardie tyd was Leané nie net 'n ma nie, maar ook 'n versorger, verpleegster, onderwyser en aan die stuur van die gesin se besigheid.
Wondsuster, Tonia Badenhorst het Leané touwys gemaak oor hoe om die wond te behandel.
Geloof
Henry is kort na sy tuiskoms egter weer vir 'n geruime tyd in die hospitaal opgeneem omdat die wond septies geraak het.
"Dit was 'n groot uitdaging om te leer hoe om sy wond te versorg. Ek het besef ek het nie 'n ander keuse nie, ek moes dit net doen."
Dit gaan vandag goed met die Eybers-gesin. Leané versorg steeds drie keer 'n dag Henry se wond. Hy kan weer loop en het sy geheue terug hoewel daar nog 'n herstelpad vir hom voorlê.
Maar wat het die gesin uit hierdie buitengewone ervaring geleer? Leané sê hulle aanvaar niks meer as vanselfsprekend nie.
"Ons is lief vir mekaar en sê elke dag dankie. Leef voluit en vertrou op die Here."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'