MOSSELBAAI NUUS - Natasha Plato is die ma van twee en werk as 'n kelnerin, maar vanjaar het daar 'n hele nuwe lewensdoel vir haar ontvou.
Sy is besig met 'n veiligheidsprojek in haar woonbuurt, Uitbreiding 13, waar daar vanjaar verskeie ernstige misdade, onder meer moorde, plaasgevind het.
Natasha was in Erika Primêre Skool, hoeka geleë in die uitbreiding en het haar hoërskoolloopbaan aan Hillcrest Sekondêre Skool voltooi. Sy verduidelik dat sy maar altyd hierdie ding in haar gehad het om op te staan vir diegene wat dit moeilik vind om hulle man te staan.
"Ek het nog altyd 'n fighting spirit gehad, maar tog was ek teruggetrokke en het nie altyd geweet hoe ek daaraan moet uiting gee nie."
Haar oom, Danny Saayman, voormalige raadslid van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit wat vroeër vanjaar oorlede is, het egter haar talent raakgesien en haar aangemoedig om haar potensiaal te ontwikkel. By hom het sy geleer om sigbaar in jou gemeenskap te wees en hulle belange eerste te stel.
Kort na haar oom se afsterwe, doen sy aansoek om in te skakel by die Imbewu politieke akademie.
"Dit het my hele geaardheid verander en my die nodige selfvertroue gegee om iets vir my gemeenskap te doen." Sy verduidelik dat, met die afsluiting van die kursus wat oor naweke in Kaapstad aangebied is, is die studente huis toe gestuur met die opdrag om te gaan dink aan behoeftes binne hulle gemeenskappe wat aangespreek moet word.
"Net in daardie tyd was daar weer 'n moord in Uitbreiding 13 en toe besluit ek op 'n veiligheidsprojek."
Natasha het 'n nie-winsgewende organisasie gestig, die Westridge Eyes in the Wood, wat ten doel het om kameras soos elders in Mosselbaaise woonbuurte as 'n teenvoeter vir misdaad, op te rig.
"Ek is 'n ma van twee seuns en boonop baie lief vir ouer mense. Ek wil toesien dat ons gemeenskappe veiliger raak, juis vir weerloses se onthalwe."
As deel van haar projek, werk sy nou saam met raadslid Leon van Dyk, wat 'n groot impak op die vestiging van gemeenskaps-veiligheidsnetwerke in Mosselbaai en omgewing bewerkstellig het.
Natasha is vuur en vlam, ten spyte daarvan dat die koste van haar projek noemenswaardig is.
"Ons het al 'n klompie geld en werk aktief om borgskappe te soek. Inteendeel, daar is heelwat sakelui wat ons graag wil ondersteun, maar die rompslomp van die papierwerk wat ons moet toon om transaksies wettig te maak, rem ons planne."
Vir meer inligting, kontak die Westridge Eyes in the Wood-bestuurskomitee: Natasha Plato (084 990 1912); Clayton Kannemeyer (061 906 5523); Soloman October (079 272 8337); Zelda Beukes (082 414 4897) en Jeffry van Niekerk (074 422 9303), of stuur 'n e-pos na westridge.ext13@gmail.com
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'