MOSSELBAAI NUUS - Lugbesoedeling op Mosselbaai is 'n werklikheid en al reken ons dat ons skoon seelug het, is daar egter taamlik baie besoedeling in ons pragtige omgewing.
Daar word gereeld klagtes by die Mossel Bay Advertiser aangemeld oor besoedeling van veral verskeie fabrieke in die omgewing.
As mens egter verder kyk na ons luggehalte én lugbesoedeling, is daar verskeie ander faktore wat ook daartoe bydra dat ons lug nie heeltemal so skoon is nie.
Nommer een is sekerlik voertuie se uitlaatstelsel. Met druk verkeer gedurende spitstye, is dit ongelooflik baie nadelige gasse wat die lug besoedel.
Dan kyk mens na wintertyd by ons informele nedesettings waar baie hout verbrand word om die koue weg te hou en 'n kos te maak.
Selfs daardie braaivleis vuurtjie gaan lê laatmiddag oor die vlaktes wat darem lekkerder ruik as uitlaatgasse.
Besoedeling is egter 'n werklikheid. Wêreldwyd word die vingers na die mensdom gewys, wat moontlik die oorsaak is van aardverwarming, natuurskommelinge en die beskadiging van die osoonlaag. Groot industrieë word altyd as die skuldiges uitgewys. Maar voor jy egter vinger wys na ander, kyk na jouself en jou bydrae tot skoner lug al dan nie.
Die Advertiser het met dr Johan Schoeman bestuurder van die Distrik Lugkwaliteit Kontrole van die Tuinroete Distriks Munisipaliteit gesels oor Mosselbaai se luggehalte. Hy sê tans is daar een Zephyr lug kwaliteit sensor in Groot-Brakrivier om die luggehalte daar te moniteer. Een van die grootste bydraes tot lugbesoedeling is egter motor uitlaatgasse en mens kan jou net indink dat as dit kleur bevat het sou Louis Fourieweg in spitstyd sekerlik soos 'n reënboog gelyk het.
Die luggehalte in die Tuinroete word gemeet deur middel van `n Distriks- Luggehaltebestuursplan (GRDM). GRDM is tans in sy derde bestuurssiklus, wat oor ‘n periode van vyf jaar strek.
"Mosselbaai beskik oor goeie lugkwaliteit maar daar is egter sekere areas wat uiteraard meer besoedeling het as ander. Afhangende natuurlik van die geografiese gebied met betrekking tot 'n potensiële bron van besoedeling. Lugbesoedeling kan enige tyd opvlam na gelang van 'n spesifieke gebeurtenis en dit moet dienooreenkomstig bestuur word," sê Schoeman.
Luggehalte word al sedert ongeveer 2009 deur middel van `n algemene luggehalte moniteringstasie gemeet. Die stasie was aanvanklik in Bayview gestasioneer as gevolg van die nywerheidsone in die Voorbaai omgewing. Konsentrasies van PM10, SO2, NOx O3 en BTE X en CO is deurlopend gemeet. Die uitslae in daardie stadium was binne aanvaarbare standaarde van die Suid-Afrikaanse lugkwaliteit vir dié besoedelingstowwe.
"Daar het toe `n behoefte onder die Danabaai inwoners ontstaan vir monitoring in Danabaai a.g.v. die ligging wat relatief is tot nywerhede in die Mossdustria omgewing. Afstootlike reuke van organiese oorsprong was die groot probleem. Intussen het die GRDM die grootste bron van hierdie afstootlike reuke elimineer deur nie hierdie nywerheid se Atmosferiese Emissie Lisensie (AEL) te hernu nie."
Die moniteringstasie is as gevolg van voortdurende vandalisme geskuif na die Lugkwaliteitskantore in Uitbreiding 23 en word sederdien daar gevestig. Dit verskaf belangrike inligting t.o.v. lugkwaliteit in die informele areas soos KwaNonqaba en D`Almeida. Van die groter nywerhede is ook verplig om ingevolge hul lisensievoorwaardes die luggehalte te toets met behulp van moniteringstasies. "Dié data is ook tot ons beskikking," sê Schoeman.
Verder vul die GRDM sy monitoring aan deur middel van passiewe monitoring, dispersie modulering, asook `n mobiele lugkwaliteit-moniteringsapparaat (Earthsense Zephyr). Dispersie modulering word gedoen deur middel van`n rekenaarpakket (AERMOD) wat deur middel van sekere algoritmes, die verspreiding van besoedelingstowwe op `n kaart uitbeeld teen `n spesifieke konsentrasie indeks. Verder moet alle gelyste nywerhede in ons jurisduksie ook voldoen aan streng emissie standaarde ingevolge hulle lisensie voorwaardes.
Die Provinsiale moniteringstasies in Mosselbaai en George rapporteer ook direk op die SA Weather Services se South African Air Quality Information System (SAQIS) waar die gemete data op `n spesifieke lugkwaliteitsindeks aangetoon word. https://saaqis.environment.gov.za As die stasie groen op die kaart dui, toon dit goeie lugkwaliteit. Die publiek kan dus self gaan kyk wat die indeks vir die dag is.
Daar is slegs een Zephyr sensor en hy word tans in Grootbrakrivier (residensiële gebied) gebruik waar hy vir die volgende besoedelingstowwe meet: PM1, 2.5 en 10. CO, NO2, SO2, H2S en VOC.
Die apparaat word in die distrik rondgeskuif na gelang van spesifieke behoeftes soos klagtes en bronne van besoedeling, wat van tyd tot tyd mag opduik.
Buiten nywerheidsaktiwiteite, het ander bronne ook `n invloed op ons luggehalte. Daar is al in die verlede kommunikeer oor die impak van skeepsaktiwiteite in die Bayview omgewing tov NO2 en SO2 emissies. Voertuig-emissies op Louis Fourieweg en die N2 deurpad, die brand van stortingsterreine, veldbrande, vure in informele areas vir kos voorbereiding, aanstootlike reuke van rioolwerke en pompstasies, opgaardamme, byprodukte aanlegte van dierlike oorsprong, stofstorms en dies meer.
Die verkeersvloei op Louis Fourieweg speel`n beduinde rol op die algemene lugkwaliteit van Mosselbaai, veral die pad tussen Hartenbos en Voorbaai.
Hier praat ons tipies van Partikulêre Materie (PM), Stikstofdioksied, Koolstofmonoksied en Swaeldioksied wat `n gesondheidsgevaar mag inhou. Dit het alles te doen met die stadige verkeersvloei gedurende spitstye en oor vakansieperiodes. Die verbreding van Louis Fourieweg sal `n positiewe impak hê. Garden Route het al die impak bepaal d.m.v. `n dispersiemodel en dit was al in die Advertiser oor berig. Verder was monitoring al gedoen en dit het getoon dat voertuigverkeer `n definitiewe impak op die luggehalte inhou. Skrywes in dié verband is aan Mosselbaai-munisipaliteit gelewer om hulle te help met die motivering vir die verbreding van Louis Fourieweg.
Sonder om name te noem, word al die nywerhede wat ingevolge Artikel 21 van die Luggehaltewet as gelyste aktiwiteit gelys is, se luggehalte deur die GRDM bestuur. Daar word streng luggehaltevereistes aan hierdie nywerhede gestel.
Die voorwaardes dek alle puntbronne (skoorstene en uitlate, areabronne- algemene emissies van opgaardamme, bergingshouers, uitvloeidamme, ens). Hul onderskeie lisensie voorwaardes word voortdurend gemeet d.m.v. lisensie oudits, moniteringsuitlae, en ander administratiewe voldoeningshulpmiddels. Indien daar nie aan sekere vereistes voldoen word nie, sal administratiewe beheer toegepas word en in uiterste gevalle mag `n fabriek selfs gesluit word.
Die effek van die George- en Knysna veldbrande, wat ‘n paar jaar gelede plaasgevind het, het `n groter effek op luggehalte in daardie periode gehad as al die nywerheidsemissies saam in daardie gegewe jaar. So, ja, veldbrande kan `n groot impak inhou.
GRDM doen baie ten opsigte van luggehalte bewustheid in die informele areas en daar is `n Skoonvuurveldtog by al die primêre skole in die distrik. Hierdie program is in die Graad 3 kurrikulum ingeskryf en voed die leerders op oor lugbesoedeling en hoe om dit te voorkom. Al die Laerskole in die Mosselbaai omgewing is gedurende Maart 2023 en April 2023 gedek. Braaivleisvure en kaggels hou van tyd tot tyd `n oorlaseffek in. Selfde met kragopwekkers ten tye van beurtkrag.
CFC’s oftewel chlorofluorocarbons is osoon-vernietigende middels en daar bestaan streng regulasies in Suid-Afrika wat die uitfasering, in- en- uitvoer daarvan kontroleer. Ingevolge die gewysigde 2021 regulasies word sekere middels totaal verbied en is dit `n oortreding om dit op te gaar of te berg.
VIR MEER BESONDERHEDE KONTAK GERUS: Dr Johann Schoeman - Bestuurder: Distrik Lugkwaliteit Kontrole
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’