MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai Lewensreddingklub by Diaz-strand het oor die Paasnaweek klaargemaak met hul amptelike take vir die seisoen, maar oefen steeds om fiks te bly.
Die lewensredders en "nippers" het tydens 'n oefening verlede naweek op 'n voëltjie afgekom wat in 'n vislyn verstrengel was.
Die vislyn was om die voëltjie se vlerke en pote gedraai en het verhoed dat dit kon vlieg of rondbeweeg.
Die klub se instrukteurs het 'n mes gebruik om die vislyn los te sny en die geleentheid gebruik om die jongelinge te leer van die skade wat besoedeling kan aanrig aan ons diere en strande.
Volgens 'n komiteelid, Janine Fraser, maak die klub 'n punt daarvan om ons strande skoon te hou.
"Ons as Mosselbaai Lewensreddingsklub daag alle lede van die publiek uit wat op die strand gaan stap om ten minste een item vullis op te tel en in 'n vullisdrom te gooi. Ons strande in Mosselbaai is pragtig en die diereryk kosbaar, en ons moet dit bewaar en waardeer."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’