GROOT-BRAKRIVIER NUUS - In die volksmond het die plek verskeie noemname. Brak, Groot Brak, Brakrivier. Ek verkies nog al die jare die naam Brak, omdat dit kort en gerieflik is.
Die Searles-familie het die dorp in die vroeë 1800`s gestig. Ek is maar bra lugtig om presiese datums vas te pen, want menige keer het iemand dalk lank voor die amptelike formalisering al op die grond gewoon. Ek laat hierdie presiese datums maar aan die historici oor.
Wat belangrik is, is dat die Searlese 'n belangrike rol in Brak gespeel het waaroor ek wel later sal kommentaar lewer.
Ek het al vroeg in my lewe, hier in die middel 50s met Brak kennis gemaak. Ek was toe maar 'n pikkertjie. My ma en nog ander het toe by oom Piet Smith `n huispartytjie geniet.
Daardie aand het ek vreeslik gehuil, omdat my ma met 'n ander man gedans het. Net nou die dag was ek weer in Brak en het figuurlik weer gehuil toe ek verneem dat die Searles-skoenfabriek, soos dit algemeen bekend was, in sy huidige produksievorm gaan sluit.
Die fabriek wat vir jare der jare 'n hele gemeenskap van werk en lewensmiddele lewe voorsien het. Die werkers in die skoenfabriek het geskiedkundig 'n beter inkomste vergeleke met werkers in die naburige dorpe gehad. Dit kon mens aan hul leefwyse en uiterlike voorkoms sien. Die huise wat Searles vir hulle gebou het, was ook van 'n hoër standaard. Die inwoners het gemakliker geleef as byvoorbeeld ons in Mosselbaai of George.
Gevolglik kon meer kinders van Brak skool toe gaan, ook omdat Searles 'n vorm van 'n beurs aan verdienstelike leerders voorsien het.
Sodoende kon hulle in goeie skole soos Genadendal, Athlone Hoër, Spes Bona ensovoorts in die Kaap gaan verder leer. Geen wonder dat Brak verhoudingsgewys 'n groot getal geleerde en tegniese mense opgelewer het nie.
Die gehalte skoene wat Brak se skoenfabriek gelewer het, hoef nie terug te staan vir enige oorsese produk nie. Ek mag nou nie skoenname hier noem nie, maar die meeste lesers van hierdie artikel sal weet waarvan ek praat.
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'