TUINROETE NUUS - Een van die bekendste en mees geliefde inwoners van George, Jannie Meyer van onder andere George Herald- en spitbraai faam, is vanmiddag in die Life Knysna Privaat Hospitaal op 75-jarige ouderdom oorlede nadat hy verlede week inwendig begin bloei het.
Jannie het by sy dogter en skoonseun, Juanita en Jackson van Vuuren in Knysna gekuier toe hy verlede Woensdag siek geraak en Donderdag ‘n noodoperasie moes ondergaan.
Volgens sy seun Mardré is ‘n aneurisme in sy aorta reeds jare terug ontdek en gemonitor. Hierdie verswakking het verlede week begin lek en geweldige inwendige bloeding veroorsaak.
Jannie het moedig teruggeveg en sy honderde vriende en familielede was hoopvol dat hy sou herstel, maar na ‘n terugslag gisternag is hy weer vanoggend geopereer. Hy is vanmiddag omstreeks 16:00 oorlede.
Sy vrou, Jolene, is in Augustus 2020 aan kanker oorlede en hulle het hulle seun, Jan, ‘n paar jaar vroeër in ‘n motorongeluk verloor.
Sy ander dogter, Mariska Wessels, woon in George.
Group Editors en George Herald se eienaars en personeel treur saam met sy familie en vriende dwarsoor Suid-Afrika. ‘n Huldeblyk aan ons geliefde Jannie Meyer sal in volgende week se George Herald verskyn.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'