Lees sonder sig, gebruik gehoor

Maxi Willemse, tans 'n Kansa-vrywilliger, se niemand hoef die plesier van lees ontneem te word nie. Sy het voorheen vir Bandhulp vir Blindes gewerk. Foto: Cornelle Carstens

MOSSELBAAI NUUS - Hoewel die tendens is dat die jonger generasie minder en minder van lees hou, is 'n wêreld sonder boeke en stories immers ondenkbaar. 

Vorige generasies, was totaal aangewese op die lees van boeke vir vermaak, as 'n tydverdryf en ook om kennis in te win.

Na aanleiding van 'n artikel in die Mossel Bay Advertiser, oor 'n hoogbejaarde man, wat nie meer kan lees nie aangesien sy sig te veel verswak het, het Maxi Willemse ter stond besluit om die goeie nuus te versprei "dat niemand nodig het om die voorreg van lees ontneem te word nie."

Maxi, deesdae betrokke by die Kansa-vrywilligers, het jarelank by Tape Aids for the Blind (Bandhulp vir Blindes) gewerk toe sy nog in Bloemfontein gewoon het. Toe sy na Mosselbaai verhuis het, het sy nog 'n rukkie met haar werk as agent vir hierdie niewinsgewende organisasie voortgegaan waarna sy haar kragte by Kansa begin inspan het.

Volgens Maxi, is die wonderwêreld van lees, danksy hierdie diens, geensins vir siggestremdes verlore nie. Inteendeel, verduidelik sy dat, enige persoon wat nie normaal 'n boek kan vashou of lees nie, van hierdie diens gebruik kan maak. Bejaardes wie se sig agteruitgaan en ook disleksielyers is ideale kandidate vir hierdie diens.

Die organisasie se huidige biblioteek, bestaan uit meer as 50 000 titels, beskikbaar in al 11 amptelike landstale. "Daar is alles denkbaar beskikbaar. Die hele Bybel, boeke van Dana Snyman, resepteboeke. Selfs voëlboeke. Hierdie boeke bevat selfs die voëlgeluide."

Volgens Maxi, het van Suid-Afrika se bekendste akteurs en stemkunstenaars deur die jare hulle dienste gratis aangebied om die boeke tydens klankopnames voor te lees. "Die stemme word altyd gekies om te pas by die aard van die storie.

Ook siggestremde studente steun op hierdie diens.

Bandhulp vir Blindes
Om van hierdie diens gebruik te maak, is gratis. Bandhulp vir Blindes bestaan reeds 55 jaar en stuur daagliks sowat 2 000 boeke uit na lede landwyd. Die organisasie was die breinkind van Jannie Venter, 'n klerk by die Suid-Afrikaanse Spoorweë wat sy siek vriend in die hospitaal besoek het in 1958. Die vriend, wat bedleênd was, het Venter geïnspireer om 'n boek op band voor te lees sodat dit in die hospitaal teruggespeel kan word. Met die hulp van 'n siggestremde lektor aan die Universiteit van Natal, prof Ken Mcintyre, het die projek vlam gevat. Daar was baie groeipyne en veral struikelblokke wat die maak van professionele opnames betref het, veral gebrekkige fondse.

Vandag het die organisasie 27 klankateljees regoor die land en die biblioteek groei met ongeveer 2 000 titels per jaar. Bo en behalwe boeke, is 'n beperkte verskeidenheid tydskriftitels ook beskikbaar.

Die boeke is in kassetformaat beskikbaar, maar dit word tans uitgefaseer en vervang met CD's waarop MP3-formaat opnames is. Hierdie MP3's kan ook deur lede afgelaai word by DStv. Die organisasie laai ook op versoek boeke op geheuestokkies af.

Vir meer inligting, kontak Bandhulp vir Blindes (031 309 4800), besoek die webtuiste, www.tapeaids.com of stuur e-pos na library@tapeaids.org.za

'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'


Your comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Mossel Bay Advertiser