Die vervoerkwessie vir leerders vanuit die Ruiterbos-, Brandwag- en Sonskynvallei-omgewing, was sedert verlede week opnuut 'n twisappel veral nadat videos op sosiale media versprei is aangaande wat blyk om roekelose bestuur deur een van die busdrywers te wees.
In die video, wat deur leerders op die bus geneem is, blyk dit of die busdrywer om 'n draai en teen 'n afdraand versnel deur D'Almeida in die rigting van Louis Fourieweg.
Die video eindig met gillende kinders wat skynbaar in die bus rondval.
Dít, saam met ander onlangse klagtes wat die ouers geopper het, het die Wes-Kaap Onderwysdepartement genoop om op Maandag, 9 Mei verskeie partye waaronder die verteenwoordigers van die betrokke skole, lede van die WKOD-kringbestuur en die busdiens vir samesprekings bymekaar te kry.
Veiligheid
Hoewel verskeie kwessies geopper is, onder meer die kwaliteit van die voertuie en die leerders se gedrag, was die partye dit eens dat die kinders se veiligheid te alle tye topprioriteit behoort te wees.
Manie Davids, adjunk-direkteur van die Eden Sentraal-onderwysdistrik, was die sameroeper en het ook as voorsitter tydens die vergadering opgetree.
Die verteenwoordiger van Hoërskool Punt, Rudolf Botha het kapsie daarteen gemaak dat sy skool dikwels as die sogenaame bad boy in die vervoerproses uitgewys word. Hy het te kenne gegee dat dit 'n nuwe proses vir die skool is, maar dat hulle hul volle samewerking gee.
Die hoofde van Hoërskool Sao Bras, David Groenewald en Hillcrest Sekondêre Skool, Ivan Kroneberg was beide teenwoordig.
Onder van die klagtes wat aangehoor is, is dat busse dikwels die leerders laat aflaai, en dat indien die skole verskeie tye eindig, daar vir sommige leerders weggery word. Opmerkings is ook gemaak oor padwaardigheid van die busse en die bestuursvernuf van die busdrywers.
Oorlading van busse is ook geopper.
'Alles in orde'
Die diensverkaffer, Jeroms Sass en sy span, het die versekering gegee dat alle busse wat op die roete gebruik word padwaardig is en allerweë daaraan voldoen om leerdervervoer te verskaf.
Sass het ook gesê dat hy enige drywer wat buite die voorskrif bestuur, aanspreek.
Wat oorlading betref, het Sass reeds vroeër vanjaar in 'n onderhoud met die Mossel Bay Advertiser gesê dat hy goedertrou ongeveer 50 leerders oplaai, wat waarskynlik 'n oorsaak vir die oorlading is. Sass het ook gesê dat hierdie gebaar tot finansiële verlies ly. Die roete is slegs goedgekeur vir 119 leerders.
Beheer oor die leerders by die op- en afklimpunte is ook opgehaal, so ook die feit dat leerders glo kru taal teenoor die busdrywers gebruik.
Pat Volkwyn van die WKOD het genoem dat die roete, genaamd 761 'n tydelike roete is wat vir 'n jaar goedgekeur is. Hy het genoem dat die voormalige Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schäfer die roete in haar termyn goedgekeur het en dat dit nie uitgesluit is dat die nuwe minister die besluit ongedaan kan maak nie. Volkwyn het weer eens uitgestip dat skole, soos Sao Bras en Punt wat skoolkoshuise het, nie in terme van normale prosedure 'n gesubsidieerde busdiens ook bied nie.
Opvolgvergadering
Davids het aangedring op 'n opvolgvergadering. Hy het verskeie punte uitgewys waarin daar aksie geneem moet word, wat dan geherevalueer moet word.
Die WKOD-kringbestuurder, Rozelle Smith-Neethling het haar waardering uitgespreek vir hoe die vergadering verloop het.
Dit is tydens die vergadering uitgestip deur Davids dat die busdiens 'n verlengenstuk van die skool is, daarom is dit van belang dat dit glad en sonder insident verloop ten einde nie die WKOD se visie en uitvoering van kwaliteit-onderrig te ondermyn nie
Op Maandagaand, 9 Mei het die betrokke ouers 'n gemeenskapsvergadering in Ruiterbos gehou waar hulle griewe bespreek is.
Die betrokke skole asook die WKOD is na die vergadering genooi, maar het dit volgens 'n woordvoerder van die gemeenskap, nie bygewoon nie.
Volgens die woordvoerder, was gemoedere tydens die vergadering hoog en is ouers ontevrede dat daar nie verteenwoordiging van die WKOD was nie.
Slegs Sao Bras se hoof, David Groenewald het die geleentheid bygewoon.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'