MOSSELBAAI NUUS - Een van St Blaize RK Primêr se leerders, Hlompo Malaudi, het Maandag, 12 Maart, 'n opvoeder, Dawn Frans, van verstikking gered.
Hlompo was op die regte tyd op die regte plek. Sy het gedurende die pouse iets by juffrou Frans se klas gaan haal toe sy sien dat die juffrou sukkel om asem te kry.
Hlompo, 'n graad 6-leerder vertel dat sy in die vak lewensoriëntering geleer het hoe om noodhulp toe te pas as iemand verstik.
Maar, het sy vinnig bygevoeg, niemand het ooit iets gesê dat dit sou behels dat sy 'n onderwyseres sal moet slaan nie.
"Ek was baie bang om vir juffrou Frans agter die rug te klap, want sy het my geleer lees en skryf en ek het die grootste respek vir haar."
Tydens die insident het juffrou Frans egter deur middel van handgebare daarop aangedring dat Hlompo haar op die rug moet klap.
Na die tweede hou het die lekker, waaraan die onderwyseres gesuig het, met 'n boog by haar mond uitgeskiet.
Juffrou Frans kon weer asemhaal en kan sedertdien nie ophou om Hlompho vir haar redddingsdaad te bedank nie.
ARTIKEL & FOTO: SHARLTON GROENEWALD
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'