Video
GROOT BRAK-RIVIER NUUS EN VIDEO - Derduisende Rand se implemente en voorraad, aanvanklik bestem vir 'n hoenderplaasprojek in die omgewing van Groot-Brakrivier, word bietjies-bietjies weggedra.
Boonop sit 'n gemeenskap met net leë beloftes nadat groot drome vir 'n werkskeppingsprojek skynbaar skipbreuk gely het.
In 2014 is inwoners van Groot-Brakrivier ingelig dat onder meer die departement landelike ontwikkeling en grondhervorming beoog om 'n hoenderplaas en verwerkings-aanleg in die omgewing te vestig. Gemeenskappe van al die landelike dorpe in die groter Mosselbaai sou by hierdie projek gebaat het. Groot opgewondenheid het geheers oor die voorneme om braaikuikenbroeiplekke, 'n voermeule, slagpale en ander infrastruktuur te vestig.
Daar was sprake dat 'n abbatoir in die Brakrivier-omgewing aangekoop is. Die grootste voordeel sou volgens 'n skrywe aan die gemeenskap na veral vroue en gestremde persone gaan.
Volgens die beloftes wat aan die raad van belanghebbendes (council of stakeholders) gemaak is, was 'n mark vir die produkte van hierdie projek reeds geïdentifiseer.
Enersyds sou die begunstigdes die projek bestuur en vir dié doel is agt koöperasies, elk met 10 lede tot stand gebring en by die SA Inkomstediens geregistreer. Andersyds sou werklose persone indiensopleiding ontvang het deur te help om die infrastrutuur, onder meer die hoenderhokke, te vervaardig en op te rig.
'n Kontrakteur is aangestel en het personeel in die area gevestig. Belanghebbendes is na werkswinkels genooi, selfs op plekke soos Worcester, vir opleiding in bestuurstegnieke en ander verwante vaardighede. Die kursusgangers is egter nooit vir hul werklike uitgawes om hierdie werkswinkels by te woon, vergoed nie. Ook is niemand geleer om hoenderboere te wees nie.
Kyk 'n video hieronder:
Geen grond aangekoop
Dit blyk egter dat geskikte grond nooit bekom is nie. Bestuurslede van die raad van belanghebbendes het heelwat moeite gedoen om in die omgewing na beskikbare grond te soek en talle voorstelle, onder meer betreffende beskikbare staatsgrond in hierdie verband is aan die projekleiers gemaak. Daar het egter steeds niks van die planne gekom nie.
Daar is sakke vol moertjies en boutjies in die houers sonder slotte. Daar is gepeuter met die sakke. In een skeepshouer is wegneemkospapiere.
Grootskaalse diefstal
Intussen word van die implemente, toerusting en voorraad wat deur die departement aangekoop is vir die vestiging van die hoenderbedryf, weggedra. Hierdie voorraad is in 2014 reeds gelewer. Dit was aanvanklik in 'n stoor in Groot-Brakrivier gehou, maar staan nou vir jare reeds op 'n plaas toegesluit in skeepshouers. Hierdie skeepshouers word nou gevandaliseer en die voorraad word geplunder.
Na bewering is een van die skeepshouers intussen verwyder en dit is onbekend of, en watter implemente of voorraad daarin was. Met die Mossel Bay Advertiser se besoek aan die skeepshouers was sommige deure sonder slotte.
Ten minste drie van die skeepshouers se deure het geen slotte nie, Binne is allerlei toerusting, onder meer sinkplate, grootmaatwaterhouers, selfs sakke vol moertjies en skroewe. Dit is duidelik dat van die voorraad uitgehaal is.
Vrugtelose uitgawes
Die waarnemende voorsitter van die raad van belanghebbendes, mnr Barry Jacos, sê die gemeenskap is radeloos en vra vrae oor die vrugtelose uitgawes wat aangegaan is, en wie daardeur bevoordeel is.
"Op 'n stadium het 'n direkteur van die departement landelike ontwikkeling en grondhervorming met 'n TV-span Groot-Brakrivier besoek. Toe hy hier kom, vra hy; 'Waar is die hoenders?' Dit is wat ons ook vra. Kan die voorraad dan nie vir 'n ander projek aangewend word nie"
Jacobs en Willem Bosel, ook 'n lid van die raad van belanghebbendes, sê die gemeenskap soek nou vir antwoorde, maar geen van die betrokkenes reageer op navrae nie. "Ons word rondgestuur met navrae, kongresse vind plaas en dan vind ons uit ons as Groot-Brakrivier se raad van belanghebbendes is nie eens uitgenooi nie, waarskynlik omdat die organiseerders weet dat ons ongemaklike vrae oor hierdie projek sou vra."
Die Mossel Bay Advertiser het navrae in hierdie verband aan die departement landelike ontwikkeling en grondhervorming se woordvoerder gerig, maar teen druktyd is geen reaksie ontvang nie.
Barry Jacobs, waarnemende voorsitter van die Groot-Brakrivier raad van belanghebbendes en Willem Bosel, ook 'n lid, op die privaatgrond waar die skeepshouers gehuisves word. Foto's: Nickey le Roux
'Ons bring jou die nuutste Groot Brak-Rivier, Tuinroete nuus'