MOSSELBAAI NUUS - Tydens die Mei-byeenkoms van die VLV Klein-Brakrivier het lede en gaste saam met Christa van Dyk (sameroeper vir gesondheid), meer geleer oor "die groot geheim van geestes-gesondheid".
Van haar riglyne was om altyd 'n positiewe ingesteldheid te hê en baie te lag.
In aansluiting hierby was daar 'n vertoning Jannie de Bruin en sy vennoot Tommie Thomson.
Jannie de Bruin is natuurlik die bekende kulkunstenaar en buikspreker wat al vir meer as 50 jaar 'n huishoudelike naam in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf.
De Bruin (en sy groep) het sedert 1961 met hul Wondervertoning letterlik elke stad, dorp, gehuggie en skool in ons land besoek en gesonde gesinsvermaak aan oud en jonk verskaf.
De Bruin was ook deel van verskeie bekende konsertgeselskappe en het sedert die middel sewentigs ook bekendheid as TV-kunstenaar in verskeie TV-reekse verwerf.
Lede en gaste van VLV Klein-Brakrivier het die vertoning baie geniet en die geleentheid is in ligte luim afgesluit. Dit was duidelik dat lag beslis 'n belangrike rol in geestesgesondheid speel.
VLV Klein-Brakrivier se volgende byeenkoms is 28 Junie wanneer lede en gaste lekker Bingo gaan speel, boek solank die datum.
Jannie de Bruin en sy vennoot Tommie Thomson tydens 'n destydse vertoning.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'