Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Op 'n plaas buite Mosselbaai is twee pragtige lammertjies tydens die Covid 19-grendeltydperk gebore.
Dat hulle 'n tweeling is, is reeds iets besonders. Maar met kudde-immuniteit wat vanjaar deel van die Covid-19-gonswoorde is, het die tweetjies op die koop toe nes hul ma, 'n masker op die snoet geërf.
Phillip en Marinda van Niekerk van die plaas Kleingeluk, het aan Mossel Bay Advertiser gesê dat dié boetie en sussie 'n kruising tussen Dorper- en Damara-skape is. Die kruising staan bekend as Meatmaster-skape. Die lammers is drie weke oud.
Volgens die Van Niekerks, het die tweeling se pa nie die kenmerkende masker nie.
"Al die diere op die werf het name, maar ons besluit nog oor wat om dié tweetjies te noem. Op die oomblik is hulle sommer net Boetie en Sussie," sê Phillip.
"Dit was te oulik toe die tweetjies net soos hul mamma met maskertjies gebore is en dit terwyl ons self maskers dra tydens die Covid-19-inperkingstydperk," vertel Marinda.
Die Van Niekerks se kudde Dorper- en Damara-skape vorder fluks. Buiten hul voltydse werk, is hul liefde vir die plaas en hul diere hul prioriteit na-ure.
Kyk 'n video hieronder:
Vrye tyd staan Phillip en Marinda aan hengel af aangesien Phillip 'n SA hengelaar is wat al aan menige kompetisies deelgeneem het. Marinda is self 'n kranige hengelaar. Foto's van 'n pragvis wat sy plaaslik gevang het, lewer hiervan bewys. "Ek het 'n goeie leermeester," vertel sy laggend.
Die egpaar se ander gunsteling-stokperdjie is fotografie.
Unieke ras
Pioniers wat die Meatmaster-ras help teel het, het ongeveer 30 jaar gelede besef daar is 'n gaping in die mark tussen die bekende vleisrasse en die geharde inheemse rasse. So het hulle die Dorper (vleisras) met die Damara (Afrikaras) gekruis. Oor baie generasies, is die Meatmaster geteel en geselekteer om hom te vestig in die gaping tussen Europese vleisrasse en die Afrika tipe rasse.
Unieke eienskappe is die bouvorm en bespiering van die Dorper-kant en die vrugbaarheid, gehardheid, tropinstink en weerstandigheid van die Damara-kant.
Hierdie eienskappe maak die Meatmaster aanpasbaar in van Suid-Afrika se droogste gedeeltes waar ooie in die veld dragtig raak en hul lammers suksesvol moet grootmaak, maar hulle pas ook goed aan in natter dele waar hulle meer weerstandig teen parasiete moet wees.
Phillip en Marinda van Niekerk hier saam met die gemaskerde Meatmaster-gesin - 'n ooi en haar tweelinglammers. Foto's: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'