MOSSELBAAI NUUS - Met 'n vrou nou aan die stuur van sake by die KwaNonqaba-polisie se ondersoekeenheid, word daar op eie inisiatief verskeie opknappings aan die speurders se algemene kantoor beplan.
Boonop gaan die ondersoekbeamptes self die moue oprol en Maandag, op Erfenisdag, beoog hulle om te midde van 'n jolige atmosfeer hul kantore op te knap.
Die polisielede gaan vure verskaf en nooi die gemeenskap om hand by te sit en selfs 'n vleisie saam met hulle te kom braai en die dag te geniet.
Benewens verf, benodig die polisie die gemeenskap se ondersteuning en enige persoon wat kan help met verfkwasse, verfpanne en ander toebehore waarmee die kantore opgeknap kan word, word versoek om die bevelvoerende offisier, kapt Ashleigh Michaels (044 606 5600 of 082 334 7566) te kontak.
Die algemene kantoor se mat is vodde en daar is 'n wesenlike behoefte aan behoorlike meubels soos ordentlike lessenaars, behoorlike stoele, netjiese gordyne, en gordynkappe.
Hoewel daar 'n area is wat as kombuisie aangewend kan word, beskik die lede nie oor enige behoorlike kombuistoerusting nie.
Hierdie lede moet gereeld na-ure werk. Selfs bedags mag hulle kos wil warm maak of selfs net koffie maak, maar die mees basiese toerusting ontbreek.
Selfs die enkele toilet tot die lede se beskikking in die algemene kantoor kan doen met opknapping.
Enige lid van die gemeenskap wat kan, word versoek om 'n bydrae te maak sodat die beamptes wat na ander se veiligheid en welsyn omsien, dit vanuit menswaardige omstandighede kan doen.
Die Mossel Bay Advertiser het in die verlede by herhaling berig oor die onaanvaarbare toestande waaronder die polisielede, veral die ondersoekbeamptes van die KwaNonqaba-polisiestasie hul taak moet verrig.
Nou is dit die Mosselbaai gemeenskap se geleentheid om uit te reik en hulle behulpsaam te wees.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'