Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Kunstenaars van Groot-Brakrivier het verlede Dinsdag, 6 Desember 'n uitstalling by OpiSpoor gehou waar hulle geskilder het, hul werk uitgestal is en hulle ook die kans gekry het om met medekunstenaars te sosialiseer.
Lynda Murison is 'n kunsonderwyser wat reeds vir agt jaar lesse gee in die area en sê haar rol is meer om kunstenaars deur die proses van kunsskepping te help.
FOTOGALERY: Kunstenaars hou uitstalling by OpiSpoor
"Dit is belangrik dat hulle 'n kans kry om hul werk aan ander te vertoon."
Joanne Hammill skilder portrette vir diereliefhebbers wie se hondekinders dood is. Soms skilder sy ook aksiefoto's van die diere. Volgens Lynda, is dit interessant hoe die verskillende persoonlikhede van die diere in die portrette na vore kom. Lynda sê: "Each artist has an individual style and I don't cramp their style. Everybody gets a chance to produce their own work in their own style, in their own time."
Hannelie Bendeman het ná die Covid-19-grendeltydperk toe sy nie meer kon werk nie, aandag aan haar kuns begin gee.
Sy vertel: "Ek geniet die lesse by Lynda ongelooflik baie. Sy laat jou toe om te doen wat jy voel jy kan doen. Sy lei ons en wys ons wat die regte ding is om te doen, maar laat ons toe om ons eie ding te doen. Sy skep vir ons 'n liefde vir kuns."
Hannelie voel nog nie gereed om haar werk te verkoop nie. "Dis soos my kinders op die stadium. Ek het nog nie die vertroue nie, dit kom eers soos jy ondervinding opbou. Vandag was dit lekker om kommentaar te kry van ander kunstenaars wat voorstelle maak. Dit was baie spesiaal."
Christine Jordaan, Maryna Human en Lynda Murison was besig met 'n muurskildery teen die sinkplaatmuur by OpiSpoor tydens die uitstalling. Die Steampunkt tema word gevolg, omdat die eienaar, Gerhard die tema gebruik het toe hy restourasiewerk aan die restaurant gedoen het.
Steampunkt is 'n beweging wat tydens die industriële rewolusie ontwikkel het. Maryna Human verduidelik dat die geriffelde sinkplaat dit baie moeilik maak om die drie-dimensionele verftegniek te gebruik wat nodig is om die tonele uit te beeld.
"Ons probeer om van Groot-Brakrivier 'n kunsdorp te maak met al die muurskilderye wat ons reeds gedoen het en met al die kunstenaars wat hier woon en werk, is ons waarskynlik besig om die Clarens van die Suid-Kaap te word."
VIDEO - Lynda Murison, art teacher held an art exhibition for her students at OpiSpoor in Great Brak River.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'