MOSSELBAAI NUUS - Talle plaaslike kunstenaars wat tydens die herfsvakansie optredes sou hou, toere beplan het en veral hulle visier op die jaarlikse Klein Karoo Nasionale Kunstefees gestel het, het bedroë daarvan afgekom nadat 'n nasionale ramptoestand op 15 Maart aangekondig is vanweë die uitbreek van die Covid-19-virus.
Die Mosselbaai Kunstevereniging wat dekades reeds maandelikse konserte, veral in die klassieke genre aanbied, was van die eerstes wat hulle konserte gekanselleer het.
In 'n omsendbrief wat per e-pos gesirkuleer is verlede week, het die kunstevereniging gesê dat hulle in Augustus weer met hulle konsertprogram sal voortgaan.
Organisasies soos Mossel Bay Creative Cultures Association, oftewel MOCCA, 'n groep kunstenaars in die groter Mosselbaai het 'n inisiatief begin waarvolgens hulle sosiale media gebruik om videos en optredes van kunstenaars aanlyn beskikbaar te maak.
Hierdeur het die organisasie nie net gehoop om blootstelling vir kunstenaars te skep nie, maar ook seker te maak dat volgehoue publieke ondersteuning vir plaaslike kunstenaars bewerkstellig word.
Deel hoop
"Dit is maar 'n groot skok. Ons almal probeer ons aanlynteenwoordigheid verskerp met sogenaamde e-konserte, wat ook moeilik en onmoontlik raak omdat ons spesifieke kameraman nie kan rondbeweeg nie al bly hy in Mosselbaai," verduidelik Petronel Baard, kabaretsanger en segsman vir MOCCA.
Sy verduidelik dat MOCCA kunstenaars dus genooi het om sommer foonvideos te stuur van hul musiek, danse en kunswerke.
"Ons wil dit aanlyn kan versprei op ons facebookblad ten einde mense aan te moedig en hul te ondersteun met donasies. Daar was ook nasionale bewegings vir hulp en selfs radios wat profielwerk op kunstenaars lig ten einde te help. MOCCA deel deurgaans informasie soos ons dit kry en gebruik ook die tyd om die verskillende kultuurorganisasies in ons area te bemark om 'n prentjie te skets van alles wat hier aangaan. Ons ondersteun ander groepe ook wat mense moed inpraat en probeer goeie nuus deel."
NasieInspirasie/NationInspiration, wat onder meer 'n plaaslike nuusblad gefokus op die kunste versprei, het in 'n poging om gemoedere positief te hou, besluit om 'n #60daysofhope-uitdaging te loods. "Wat lig jou gemoed en gee jou hoop gedurende hierdie tyd? Maak 'n skets, skep 'n aanhaling, 'n video, 'n lied, 'n foto, 'n gedig, 'n dans of enige ander interpretasie van hoop," nooi hulle op hulle facebookblad. Die uitdaging is om hierdie uitbeelding op sosiale media te laai onder die hutsmerke #60daysofhope of #60daevanhoop.
"Nooi gerus jou vriende ook om deel te neem. Ons neem sosiale media oor met positiwiteit," lui 'n inskrywing op hulle sosialemediablad.
Planne uitgestel
Die nuutgestigte groep, CaniBeat, wat op 26 Maart hulle eerste fondsinsamelingskonsert sou hou, het ook hulle planne aangepas. Die groep, bestaande uit vorige wenners van Mossel Bay's Got Talent het hulleself ten doel gestel om veral uit te reik na die jeug van Mosselbaai. "Ons wil 'n platform vir plaaslike talent skep en boonop, konstruktiewe vermaak aan die jeug in ons gemeenskappe bied. Ons beplan reeds lank aan ons konsert, maar het reeds voor die President se aankondiging vandeesweek besluit dat ons maar later die konsert sal hou ten einde die verantwoordelike ding te doen," meen een van die stigterslede, Adrian London. "Ons is steeds baie dankbaar teenoor die Garden Route-gemeenskapstrust vir die bydrae wat hulle tot ons projek gelewer het."
Volg gerus die bewegings van die plaaslike kunstegemeenskap aanlyn by:
- https://web.facebook.com/creativeculturesmosselbay/of stuur e-pos na mosselbaymocca@gmail.com
- https://web.facebook.com/nasieinspirasie/
- Mosselbaai Kunstevereniging - Abé Meintjés
Die groep jong kunstenaars wat by CaniBeat se konsert op 26 Maart sou optree het reeds gerepeteer, maar was genoop om hulle planne aan te pas.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'