MOSSELBAAI NUUS - Rommel wat skynbaar moedswillig deur inwoners van Danabaai gestort word, versuur ander se genot om die natuurskoon van die St Blaize-staproete te geniet.
Danabaaier, Lennis van Schalkwyk, wat die buitelewe geniet, het kapsie gemaak teen bourommel wat glo die afgelope weke aan die begin van die staproete in Danabaai gestort is.
"Mosselbaai-munisipaliteit doen 'n beroep op inwoners om alle onwettige rommelstorting aan te meld en bedank die leser wat ook die inisiatief geneem het om die munisipaliteit oor die onwettige storting van bourommel by die Danabaai-toegang van die St Blaize-wandelroete in te lig," het munisipale woordvoerder, Nickey le Roux by navraag gesê.
Volgens Le Roux gee die munisipaliteit kwartaalliks 39 gratis sakke aan inwoners, as deel van hulle driesak-vullisverwyderingsproses.
Sou inwoners hierdie getal swart, blou en groen sakke nie voldoende vind nie, kan bykomende sakke afgehaal word by die munisipale kantore op Groot-Brakrivier of Hartenbos of by Marshstraat 55, by die kantore van die afdeling verantwoordelik vir afvalbestuur en besoedelingsbeheer. Sakke is ook beskikbaar by die afvalbestuursdepot in Schoemanstraat en wyksraadslede of wykskomiteelede kan ook vir bykomende voorraad genader word.
Gratis sakke
"Mosselbaai-munisipaliteit is een van weinig plaaslike owerhede wat steeds gratis sakke voorsien en moedig inwoners aan om tuis hul rommel gepas te sorteer en te verpak om die las op die vullisstortingsterreine te verlig. Inwoners baat uiteindelik daarby om die munisipaliteit met die herwinningsproses behulpsaam te wees.
"Hoe minder vullis op die vullisstortingsterrein beland, hoe minder moet opgedok word vir die benutting van die vullisstortingsterrein."
Van Schalkwyk was egter ook ontstig oor 'n asblik binne 'n 1km vanaf die begin van die roete wat oorlopens toe vol rommel is en hy beweer die roete binne hierdie afstand erg oorgroei is.
"Die instandhouding van die St Blaize-wandelpad bied enkele uitdagings, veral omdat dele daarvan oor private eiendom strek.
Twee van dié dele naaste aan Danabaai is vir landbou gesoneer en die brandweer kan kennisgewings aan die regmatige eienaars dien vir die oopsnoei van die roete," was Le Roux se kommentaar.
Aangesien die roete 'n aantreklikheid is, doen Mosselbaai Toerisme en die Mosselbaai GPF ook hulle deel deur persone op die roete ontplooi om na veiligheid van stappers om te sien. Hierdie persone help dan ook met die verwydering van vullis.
Gebreekte teëls duidelik sigbaar vanaf Florweg waar dit gestort is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'