"Ons het op 'n gereelde basis klere- en ander produkteskenkings ontvang en dit het 'n al hoe groter probleem geword om hierdie skenkings op 'n sinvolle manier te versprei," vertel Elna de Wet, een van die projekbestuurders wat saam met Alida du Plessis betrokke is.
"Terselfdertyd het die behoefte aan kospakkies en finansiële hulp toegeneem."
Om beide hierdie kwessies aan te spreek is daar besluit om 'n winkel te open waar skenkings teen 'n baie billike prys verkoop kan word en die geld wat daardeur gegenereer word dan gebruik om nood in die gemeenskap te verlig
"Ons wou egter die winkel só inrig dat enige persoon daar welkom sal voel, dat alle klante met menswaardigheid behandel word en die geleentheid gebied word om te kan koop wat hulle nodig het."
"Terselfdertyd bied ons ook vir almal in die gemeenskap die geleentheid om van goed wat hulle nie meer nodig het of wil hê nie, op 'n sinvolle manier van ontslae te raak."
Die naam ‘Kosi Baia’ sny ook albei kante toe: dit kos nie baie om te kom koop nie, maar dit kos ook nie baie om te gee nie.
"Vir die volhoubaarheid van hierdie projek is ons afhanklik van die gemeenskap se ondersteuning en wil ons almal aanmoedig om hierdie projek asseblief te ondersteun."
Die winkel is oop op Dinsdae vanaf 10:00 - 13:00, Vrydae vanaf 11:00 - 16:00 en Saterdae van 10:00 tot 13:00. Hierdie tye sal in die toekoms aangepas word na gelang van die behoefte. Die winkel is geleë op die hoek van Kompanjelaan en Tulbaghstraat. Petru Terblanche word bedank vir die perseel wat hy beskikbaar gestel het vir hierdie gemeenskapsprojek.
Vir enige navrae kan Elna de Wet by 044 695 0907 of Alida du Plessis by 044 695 2587 gekontak word.
Ds Dawid de Wet en sy vrou Elna van die Hartenbos NG Kerk voor ‘Kosi Baia’; 'n gemeenskapsprojek wat tweedehandse klere en ander items verkoop teen 'n baie lae pryse.
FOTO'S: MELISSA HILLS