MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaaiers wat tans in Nieu-Seeland steeds by hulle kinders kuier, hoewel heelwat langer as wat beplan is vanweë die Covid-19-krisis, se lot is steeds onseker.
Anne Swart het in 'n vorige uitgawe van die Mossel Bay Advertiser vertel hoe sy en haar man, Johan se kuiertjie by hulle seun Morné onverwags verleng is toe internasionale vlugte afgelas is vanweë die koronavirus-pandemie.
Hulle is al sedert 3 Februarie in Nieu-Seeland en sou op 6 April na Suid-Afrika teruggekeer het.
Sedert Anne voorheen met die Advertiser gesels het, het sy intussen berig dat dit bykans onmoontlik vir Suid-Afrikaners is om terug te keer na die land vanweë die astronomiese koste daarvan. Daar is slegs vlugte beskikbaar vanuit Syndey. Boonop, vertel Anne, is die verwagting dat diegene wat in Nieu-Seeland is, op eie stoom in Australië moet kom terwyl reisigers 'n rits voorskrifte ook nog moet nakom.
Haar man, Johan het vandeesweek by navraag bevestig dat die internasionale vlugte beskikbaar vanuit Sydney na Doha en dan na Johannesburg, R31 000 eenrigting kos. "Dan moet ons nog R10 000 per persoon betaal om vanaf Auckland na Sydney te vlieg."
Nieu-Seeland beweeg hierdie week na wat bekendstaan as Alert 2 van hulle inperking. Die land is internasionaal geloof vir hulle hantering van die Covid-19-krisis.
Johan verduidelik daar is nou meer beweegruimte en binnelandse, asook vlugte na Australië is beskikbaar. Die meeste besighede maak weer oop en mense kan weer begin werk. Groot byeenkomste word steeds nie toegelaat nie en mense probeer steeds die 2m-afstand vanaf mekaar handhaaf.
"Hulle beveel wel aan dat bejaardes, dis nou ons, maar by die huis moet bly," skerts Johan. Die egpaar het ook kontak met ander Mosselbaaiers, Jannie en Silma Lourens wat in dieselfde bootjie as hulle is. "Ons gaan darem volgende week eindelik saam met hulle koffie drink."
Anne vertel dat beide sy en Johan noodgewonge al belangrike mediese afsprake moes kanseleer. 'n Verdere kwelling, is dat beide op chroniese medikasie is wat intussen opgeraak het. "Ons moes 'n dokter gaan sien om 'n voorskrif te kry. Die medikasie is nie dieselfde hier as in Suid-Afrika nie, so ons hoop dit werk ewe goed."
Met die wisselkoers van R12 teenoor Nieu-Seelandse dollar, is finansies ook 'n bekommernis.
"Verder gaan dit eintlik goed met ons en ons kuier nog lekker. Dit is maar net die onbekende wat mens vang, want jy weet nie wanneer jy weer na jou huis sal kan terugkeer nie," sluit Johan af.
Johan en Anne Swart van Mosselbaai is steeds in Nieu-Seeland gestrand. Hulle sou op 3 April huis toe kom.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'