Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Volgens wetenskaplik gefundeerde beramings kan die MosJazz-fees uiteindelik tot soveel as R320m per jaar tot die plaaslike ekonomie bydra. Gegewe die sosio-ekonomiese ontwikkelingsprogramme wat die organiseerders, Camissa Solutions by feeste elders in die land implementeer, gaan veral die jeug baat by die langtermyndoelwitte vir die byeenkoms en vir die dorp.
Dit was enkele van die kernelemente wat toegelig is tydens die Mossel Bay Advertiser se tweede indaba, hierdie keer oor die MosJazz-fees wat vroeg volgende jaar by De Bakke sal plaasvind.
Die geleentheid, in die stadsaal, is deur sowat 80 persone bygewoon wat deur die mede-eienaars van Camissa Solutions, die organiseerders van die MosJazz-fees, Lovetta Bolters en Clarence Ford van hul planne vir die ontwikkeling van die fees ingelig is.
"Die Mosselbaaise munisipale raad het eenstemmig die volgende MosJazz-fees goedgekeur, maar is ook deeglik bewus dat klagtes oor die vorige byeenkoms bestaan. Daarom is streng voorwaardes, wat in 'n memorandum van ooreenkoms vervat sal word, gestel en sal die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee die uitvoerende besluitnemingsbevoegdhede hê om met die organiseerders te onderhandel en toe te sien dat by die voorwaardes gehou word," het mnr Colin Puren, die uitvoerende bestuurder in die kantoor van die munisipale bestuurder gesê.
Die mede-eienaars van Camissa Solutions, die organiseerders van die MosJazz-fees, Lovetta Bolters en Clarence Ford saam met die subredakteur van die Mossel Bay Advertiser, Cornelle Carstens - die gesprekleier - en Colin Puren, die uitvoerende bestuurder in die kantoor van die munisipale bestuurder tydens die Mossel Bay Advertiser se tweede indaba, hierdie keer oor die MosJazz-fees.
Leerkurwe
Ford het verduidelik dat die eerste fees 'n waardevolle leerkurwe was, veral betreffende die hantering van klanktoerusting en gegewe die unieke area waar die fees aangebied is. Hy het herhaaldelik die versekering gegee dat die probleem met die volume aangespreek sal word. Tog, het hy bygevoeg, is daar sekere internasionale groepe wat op hul eie klankingenieurs staatmaak waaroor die organiseerders gevolglik nie ten volle beheer sal hê nie. Hy het gewys op hul omgewingsingesteldheid as green ambassadors in die provinsie, en ook vermeld dat die verhoog wat die organiseerders by Tietiesbaai, waar 'n soortgelyke fees geruime tyd reeds aangebied word, toekennings verwerf het vir die strukturele ingenieursvernuf daaraan verbonde.
Bolters het onder meer benadruk dat die fees talle geleenthede vir kleinhandelaars meebring. Sy het ook verwys na musiek se samebindende faktor.
"Dit gaan nie net oor geld nie, maar oor die wyse waarop musiek grense afbreek, mense nader aan mekaar bring, oor die geleenthede wat die fees vir jongmense bied wat uiteindelik met die organisering daarvan gaan help."
Kyk 'n video hieronder.
Wenresep
Verskeie sprekers het benadruk dat die kwaliteit van die kunstenaars en die unieke ligging van die fees 'n wenresep is wat vir die dorp veral ekonomiese voordele in 'n kwynende ekonomie meebring. Daar is sterk geargumenteer dat die musiek, wat nie noodwendig in almal se smaak val nie, veral feesgangers van elders, selfs internasionale gaste lok. Ook by die indaba was gaste van so ver as Riversdal, George en selfs Kaapstad.
"Die Advertiser het die indaba juis aangebied om gesprek oor die onderwerp aan te moedig en lesers die geleentheid te gee, om buite die blaaie van die gedrukte media direk met die organiseerders, eerstehands, antwoorde op hul vrae en te kry.
Dit is slegs deur effektiewe, voortdurende kommunikasie dat insig in die beplanningsproses teweeg gebring kan word," het Cornelle Carstens, Mossel BayAdvertiser-joernalis wat as programleier opgetree het, gesê.
Die aand is in 'n feestelike luim afgesluit deur 'n optrede deur G-Minor, 'n plaaslike groep met baie groot aanhang. Gaste het die geleentheid gehad om informeel verder te gesels en gedagtes te ruil.
Mosselbaai se kulturele diversiteit is beklemtoon met pleidooie dat erkenning gegee moet word dat smaak verskil, ook wat musiekstyle betref en dat ruimte daarvoor geskep en toegelaat moet word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'