Gallery Update Video
MOSSELBAAI NUUS & VIDEO - Tydens 'n gemeenskapsvergadering in Uitbreiding 13 vandeesweek het Chris Nissen van die Menseregtekommissie by die aanhoor van Mosselbaaiers se uitdagings, onderneem om weer op 2 April die dorp te besoek met tersaaklike terugvoering.
Nissen het Mosselbaai op Dinsdag, 23 Maart besoek om onder meer oor die wanbetaling van SASSA-gelde te gesels.
Tydens sy besoek, is hy ook na twee informele nedesettings geneem waar gesinne in haglike toestande woon.
Fotogalery: Menseregtekommissaris besoek Mosselbaai
Die informele nedersetting in Gaatjie huisves 18 gesinne in vervalle strukture wat teen 'n helling geleë is. Een van die inwoners, die 50-jarige Gert Majola, beweer dat hy al 37 jaar van sy lewe daar woon. Al die huishoudings deel die slegs twee buitetoilette.
Nissen het onderneem om die Mosselbaai-munisipaliteit oor die situasie te nader. Hy het die inwoners daartoe gemaan om nie sonder meer die blaam vir die toestand op ander te plaas voordat daar behoorlik navraag gedoen is nie.
Tydens die gemeenskapsvergadering het Nissen lig gewerp op onlangse gesprekke met SASSA se bestuur. Volgens hom was die waardige behandeling van kliënte hoog op die agenda. "Onthou om die amptenare wat fouteer se besonderhede te neem sodat hulle uitgewys kan word en die hele organisasie nie onder 'n slegte naam ly nie."
Hy het SASSA-begunstigdes ook herinner daaraan om seker te maak dat hulle hul kant bring deur hul dokumentasie in plek te hê ten einde die proses te vergemaklik. "Ons moet mekaar as vennote sien en mekaar nie aangluur nie."
Nog 'n kwessie wat opgehaal is, is kragskuld wat verhaal word van reeds verarmdes. Nissen het genoem dat kragskuld slegs van 'n koopkrag-aankoop verhaal kan word mits daar konsultasie tussen die skuldeiser en die kliënt plaasgevind het. Hy het onderneem om die saak met die munisipaliteit op te neem ten einde terugvoering aan die gemeenskap te gee. Nissen het gesê dat gesprekke hieroor met Nersa wat elektrisiteitstariewe bepaal asook SALGA, die vereniging vir plaaslike regerings in die pyplyn is.
Die vrye toegang tot die see, veral wat hengelaars betref is ook opgehaal. Nissen het genoem dat historiese toegang tot die see wat beperk word as gevolg van hedendaagse ontwikkeling, is 'n tendens wat oraloor die Wes-Kaap 'n probleem is. Hy het die versekering gegee dat hy ook hieroor met die nodige partye in konsultasie sal wees. "Die see behoort aan almal van ons. Daar moet 'n opening vir vissermanne, én –vroue gevind word."
Nissen was op uitnodiging van munisipale raadslid, Dawid Kamfer in Mosselbaai. Kamfer het dit duidelik gestel dat die byeenkoms nie 'n politieke vergadering is nie, maar dat dit handel oor sake in die gemeenskap se belang.
Kyk 'n video hieronder.
Chris Nissen van die Menseregtekommissie saam met Dawid Kamfer, munisipale raadslid op besoek aan 'n informele nedersetting in D'Almeida. Foto: Cornelle Carstens
Vorige artikel: Commissioner looks into human rights
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'