GROOT BRAKRIVIER NUUS - Werkers van die Bolton Footwear op Groot-Brakrivier het tans die swaard van werkloosheid wat oor hulle koppe hang nadat 'n produksielyn by die fabriek na 'n tak in Kaapstad verskuif is.
Volgens André Gertse van die vakbond Nulaw (National Union of Leather and Allied Workers) staar nagenoeg 90 werkers aflegging in die gesig.
Gertse het by navraag aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat hulle, asook Sactwu (Southern African Clothing and Textile Workers' Union) tans in gesprek met die menslike hulpbronbestuur van Bolton is. "Die gesprek is nog aan die gang en dit is voortydig om nou al iets te sê oor die uitkoms. Ons en die ander vakbond sit aan een tafel en voer gesamentlik gesprek."
Gertse het ook aan die Advertiser genoem dat daar kommer is oor die moontlikheid dat minder werkers in die toekoms op kontrak by die skoenfabriek sal werk.
"Van die mense wat deur afleggings geraak kan word, werk al jare lank vir die skoenfabriek tot so lank as 39 jaar."
Gertse het gesê dat Nulaw 67 van die werknemers verteenwoordig.
Gerda Rappard, het namens Bolton Footwear navrae hanteer en gesê dat 'n volledige persverklaring uitgereik sal word sodra die konsultasieproses met werknemers afgehandel is.
Sy het bevestig dat die navrae handel oor die onlangse skuif van sogenaamde stitchdowns uit die Suid-Kaap na die Elsiesrivier-fabriek. "Die Suid-Kaap spesialiseer in mocassins, terwyl een van die Elsiesrivier-fabriek se spesialiteite stitchdowns is. Die Elsiesrivier-fabriek maak 10 keer meer die getal as wat die Suid-Kaap-fabriek produseer het."
Volgens Rappard is die Suid-Kaap se stitchdown-getalle baie klein en boonop neem dit noemenswaardig af. "Dit is dus nie volhoubaar as dit nie deel word van 'n groter daaglikse soortgelyke deurvloei nie."
Sy verduidelik dat konstruksies, wat 'n klein gedeelte van 'n fabriek se getalle opmaak, altyd geskuif word na waar dit 'n kans op herlewing het. "Vir soortgelyke redes word mocassins nie in Elsiesrivier nie, maar wel in die Suid-Kaap gemaak. Dit is 'n normale ekonomiese proses. Bolton Footwear bly deurgaans met ons werknemers deur ons eie interne strukture in gesprek."
Rappard het bevestig dat 'n konsultasieproses tans tussen die bestuur van Bolton Footwear en die werknemers aan die gang is. Die Advertiser het verneem dat 'n deel van hierdie konsultasieproses Maandag, 7 September plaasgevind het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'