Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Enkele skoot is op Sondag, 19 Augustus om ongeveer 16:50 afgevuur en het na bewering raadslid Erica Meyer (DA) se woning getref. Raadslid Meyer het volgens polisiewoordvoerder kapt Wollie Fourie van die Da Gamaskop-polisie 'n koeëlpunt in haar erf opgetel. Kaptein Fourie berig dat 'n saak van poging tot moord geopen is wat deur lede van die Da Gamaskop-polisie se ondersoekeenheid ondersoek sal word.
"Lede van die polisie se aflossings het later 'n persoon in die omgewing waar die voorval plaasgevind het, gearresteer vir die besit van twee .38mm rondes ammunisie, hoewel op geen vuurwapen beslag gelê is nie," berig kapt Fourie.
"Die persoon is gearresteer vir die besit van onwettige ammunisie en sal eersdaags in die Mosselbaai-landdroshof verskyn.
Mosselbaai-kiesafdeling se politieke leier, Jaco Londt berig dat raadslid Meyer, wat ook as raadslid in die Eden-distriksmunisipaliteit dien, baie geskok is na die voorval.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, Kapt Malcolm Pojie, is daar geen aanduiding dat die skoot enigsens op die raadslid gemik was nie.
"Voorlopige inligting dui daarop dat 'n rusie tussen 'n groep Rastafarians naby die raadslid se huis ontstaan het, waartydens 'n skoot afgevuur is.
"Daar is op hierdie stadium geen bewyse van politieke bymotiewe nie en daar moet gemaan word teen enige onverantwoordelike uitsprake in hierdie verband. Die Demokratiese Alliansie sal natuurlik raadslid Meyer bystaan vir soverre dit moontlik is."
Wetstoepassers het nietemin onderneem om veiligheid in die omgewing van raadslede se huise in die aanloop tot die verkiesing op te skerp.Enige persoon met inligting oor die voorval word versoek om die ondersoekbeampte, ao Marizaan du Plessis (044 606 2200) te kontak.
Lees 'n vorige artikel hier: Raadslid se woning in spervuur'
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'