MOSSELBAAI NUUS - Plaasdiere, soos varke, bokke en beeste wat in woonbuurte in die groter Mosselbaai aangehou word, is 'n kommer waaroor die munisipaliteit reeds indringende samesprekings gehou het.
Inwoners het hul besorgdheid uitgespreek met die toename in die aantal plaasdiere wat heen en weer oor Louis Fourieweg beweeg om tot by weiding suid van die deurpad te kom, en oor die skynbare toename in veekrale by die landbou-area tussen Mayixhaleweg en die N2.
Volgens lesers blyk dit dat diere onwettig in die munisipale area geslag word en daar word bespiegel dat hierdie vleis te koop aangebied word.
Vrese bestaan dat dit tot gesondheidskwessies aanleiding mag gee aangesien daar geen toepassing van higiëniese standaarde is nie.
Mosselbaai-munisipaliteit het onder leiding van die speaker, raadsheer Petru Terblanche, wel onlangs die probleem met gemeenskapsleiers probeer aanspreek, maar volgens terugvoer het die gesprek op 'n dooiepunt uitgeloop.
Die munisipaliteit het wel die probleem onder die aandag van die Eden-distriksmunisipaliteit, wat vir gesondheidsgevare verantwoordelik is, gebring.
Rou velle van pas geslagte diere hang oor die omheining wat die N2 van KwaNonqaba skei.
ARTIKEL & FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER JOERNALIS
"Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'