MOSSELBAAI NUUS - Die Independent Civic Organisation of SA (ICOSA) het onlangs 'n dringende navraag aan die Mosselbaai-munisipaliteit gerig aangaande die beskikbaarstelling van grond aan behoeftiges sodat benadeelde inwoners wat nie kwalifiseer vir behuisingsubsidies nie, hul eie huise kan bou.
"ICOSA glo dat die sisteem baie van ons mense gefaal het, deurdat mense wat in die verlede vir behuising aansoek gedoen het nou nie meer kwalifiseer vir sekere behuisingsprojekte nie, omdat hulle moes aanbeweeg. Die kwalifiseringbedrag maak dit bykans onmoontlik om te kwalifiseer," meen die ICOSA-leier en plaaslike raadslid, Dawid Kamfer.
"Diegene wat daardie tyd gekwalifiseer het kon nie wag totdat daar eendag huise gebou word nie en moes beter werksgeleenthede bekom wat hul inkomste vermeerder het, om hul lewens te verander. Hulle kan mos nie nou gestraf word, net omdat hulle lewenstandaard verander het nie?"
Kamfer het ook versoek dat die kriteria vir toekenning duidelik uiteengesit moet word.
Munisipaliteit reageer
Volgens die munisipale woordvoerder Colin Puren, is die toekenning van staatsgesubsidieerde behuisingeleenthede in lyn met die amptelike beleid van nie net die munisipale raad nie, maar ook die provinsiale en nasionale regering. Opsommend geld die volgende kriteria; ouderdom (bo 35), geen vorige eiendomsbesit, RSA burger en inkomste.
Met elke projek moet ook voorsiening gemaak word vir plaasbewoners, mense met gestremdhede en oorlogsveterane.
Grond word deur die munisipale raad beskikbaar gestel in lyn met die goedgekeurde behuisingspyplyn en projekte wat ooreenkomstig deur die Wes-Kaapse provinsiale regering vir Mosselbaai goedgekeur word.
"Die beskikbaarstelling van gedienste erwe sal altyd gepaardgaan teen 'n prys aangesien die raad baie groot uitgawes moet aangaan om die erwe te diens. Daar word gekyk om moontlik in die toekoms erwe op die wyse beskikbaar te stel ook by erf 2001. Tans word die precinct-beplanning vir hierdie gebied gefinalsieer."
Volgens Puren is daar verskeie programme waarvolgens inwoners vir behuising kan aansoek doen. In die Mountain View-ontwikkeling van ongeveer 1 200 eenhede, vorder 'n geïntegreerde behuisingsontwikkeling fluks. Die werk aan die behuisingsprojek is sowat R300 miljoen.
Raadsheer Harry Levendal, uitvoerende burgemeester het gesê die voorsiening van behuising is 'n spesifieke prioriteit vir die munisipaliteit.
Primêre begunstigdes vir hierdie ontwikkeling is huidige inwoners van agterplase, middelklas-inwoners en mense wat nie kwalifiseer vir gratis behuising of 'n banklening om behuising op die vrye mark te bekostig nie.
Na voltooiing binne die volgende drie jaar, sal die projek ongeveer 2 000 behuisingsgeleenthede bied, insluitend die sogenaamde Breaking New Ground (BNG) behuisingsgeleenthede, sosiale behuising en finansieringsgekoppelde subsidie-eenhede (Flisp). Terwyl 725 eenhede in hierdie ontwikkeling bedoel is vir gratis huisvesting, sal daar ten minste 278 geleenthede geskep word vir die middelklas wat nou in die agterplase of in gehuurde kamers woon.
Dié ontwikkeling is slegs drie kilometer van die sentrale sakekern (CBD) en in die omgewing van kleinhandelfasiliteite. Geriewe naby die projek sluit skole, klinieke en 'n sportveld in.
Die Mosselbaai-munisipaliteit het ook, ingevolge Artikel 9(1) van die Munisipale Verordening op Grondgebruikbeplanning, 'n konsep plaaslike ruimtelike ontwikkelingsraamwerk vir die Louis Fourie Korridor-area, bekend as die Louis Fourie Korridor Gebiedsplan opgestel. Die plan behels voorstelle vir die toekomstige ontwikkeling van dié gebied, geleë suid van Louis Fourie tussen Heiderand en Paradise Coast-ontwikkeling. 'n Opedag vir hierdie nuwe woonbuurt waar die voorstelle besigtig en vrae gevra kon word, is vandeesweek gehou.
Raadsheer Harry Levendal en munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee bespreek die vordering van die Mountain View-behuisingsontwikkeling met DJ Taljaard, die kontrakbestuurder van Ruwacon tydens ‘n terreinbesoek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'