TUINROETE | HESSEQUA NUUS - Die regering se besluit van Sondagaand, 12 Julie om drankverkope wéér te verbied, gaan verdere druk op talle produsente en wynkelders plaas wat reeds enorme skade vanweë Covid-19-iregulasies gely en wat 'n groot behoefte aan oorbruggingsfinansiering het.
So sê Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap. "Die landboubedryf is nie in die besluit geken of gekonsulteer nie en die impak stop nie by die plaashek of by die kleinhandelaar nie.
"Daar bestaan ook praktiese implikasies, soos wat van 2021 se oes gaan word as die 2020 oes nog in die kelders gaan wees. Die totale spiritualeë-bedryf, waarvan die oorsprong in die landbou lê, word nadelig deur die opheffing van drankverkope beïnvloed."
Strydom sê dat vlakke vyf en vier van die nasionale inperking reeds 'n groot nadelige uitwerking op die wynbedryf gehad het met die verbod op binnelandse verkope, wat 'n inkomste-verlies van 'n meer as R3 miljard tot gevolg gehad het.
Hy sê Agri Wes-Kaap is uiters bekommerd oor werksverliese wat reeds as gevolg van Covid-19-regulasies in die waardeketting voorgekom het. Na raming kan nog 18 000 werkers geraak word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete | Hessequa nuus'