MOSSELBAAI NUUS - As daar een ding is wat diegene wat 'n goeie lagsessie benodig nie hierdie maand moet vergeet nie, is dit om Johnnie Campher, bekende stand-up komediant splinternuwe produksie naamlik, Alles wat Malles, by te woon nie. Die produksie is op die planke op 31 Mei om 19:00 in die D'Almeida-gemeenskapsaal.
Met 'n titel soos Alles wat Malles, kan gehore hope kwinkslae uit hierdie selfgeskrewe stuk verwag.
Die komedie bied 'n satiriese blik op die Suid-Afrikaanse samelewing. Campher is snaaks in die ergste graad.
Hierdie grapmaker het net daardie verstommende vermoë om die mees eenvoudige situasie lagwekkend te maak of mense spottenderwys uit te beeld.
Van die begin tot einde van die produksie is daar nie 'n vervelige oomblik nie. Elke aksie of sêding sal 'n glimlag of lagbui ontlok omdat Campher die kuns van komedie vervolmaak het. Hy is immers 35 jaar reeds in die vermaaklikheidsbedryf. Die verrassingselement is altyd sy troefkaart in sy produksies.
Agtergrond
Met jare se ondervinding op die verhoog, het Johnnie Campher uit die aard van die saak 'n veelvoud optredes op sy kerfstok.
Hy het sy eerste toekennings vir sy verhoogoptredes in die tagtigerjare reeds begin inpalm.
Hieronder is hy talle kere al bekroon as beste akteur en ook vir sy skryfwerk. Hy is al erken daarvoor dat hy hom so beywer vir die kunste veral in die Suid-Kaap. Campher is 'n bekende gesig by nasionale kunstefeeste soos die Grahamstad-kunstefees asook die Woordfees, KKNK, Walsvisfees om nie van die internasionale Smirnoff-komediefees te vergeet nie. Ook op televisie, het hy sy merk gemaak.
Campher spog met verskynings op Good Morning South Africa, Maak 'n Las, It's a funny country en meer.
Verder het hy al die land vol getoer met produksies, baie waarvan daarop gefokus is om opvoedkundig te wees aangaande die sosiale euwels. Campher is ook die huidige president van die New Life-teatergroep in Mosselbaai.
Johnnie Campher sal op 31 Mei om 19:00 by die D'Almeida-gemeenskapsaal in Mosselbaai te sien wees. Toegang is R50 per persoon.
Kaartjies is beskikbaar by Ida (072 643 1831), Thurston (082 407 6888) en Skrefies (076 563 2892).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'