Die eerste van die vier sakke wat uit die see gevis is, is op Kersdag, 25 Desember, omstreeks 16:40 deur Mosselbaai se lewensredders by Hartenbos naby die Platform uit die see gehaal. Dit bring die totaal van wat die polisie vermoed onverwerkte kokaïen is wat in die Mosselbaai omgewing in 2013 gevind is, op sowat 100kg te staan.
Kersdag
Die lewensredders het op Kersdag 'n dobberende blou houer aanvanklik om ongeveer 15:30 in die rowwe see opgemerk toe dit sowat 300 meter van die strand was. Hulle het dit vir ongeveer een uur dopgehou terwyl dit vanuit die rigting van Mosselbaai na die Hartenbos strand gedryf het. Na wat verneem word, was die see baie rof en het die wind baie sterk aanlandig gewaai.
Die lewensredder, wat gevra het om anoniem te bly, berig dat die sak baie swaar was toe hulle dit uit die see gehaal het en dat twee lewensredders dit onmiddellik na hul noodhulpkiosk geneem het.
"Ons het die sak versigtig hanteer, want ons het vermoed dat dit óf dwelms, óf springstof, kon bevat.
"Die swart sak het heelwat slakagtige skulpdiere op gehad. Binne die sak was 25 pakkies wat elk meer as 'n kilogram elk geweeg het. Elk van die pakkies was individueel vakuumverpak en was daarbenewens met 'n laag van sowat 5mm kleefplastiek bedek.
"Ons het een van die pakkies oopgemaak, binne-in was 'n wit poeier wat waarskynlik dwelms was," het die lewensredder aan die Mossel Bay Advertiser vertel.
Twee van die pakkies het waterskade opgedoen, maar die res het geen teken van verweer getoon nie.
Die lewensredders het onmiddellik die vonds in hul kiosk toegesluit en die SAPD satellietkantoor op Hartenbos gekontak.
'n Tweede vonds is gemaak toe vakansiegangers wat naby Pinnacle Point vis gevang het, op 'n soortgelyke sak afgekom het. Hulle het die sak, wat ook met 'n swart en blou tou aan 'n blou houer vasgemaak was, opgepik en by die Seiljagklub aan lede van die SAPD Seegrens-eenheid oorhandig, vanwaar dit ook aan die Georgeniseerde Misdaadeenheid op George vir verdere ondersoek oorhandig is.
Twee verdere vondse
Verdere vondse is op 31 Desember en 1 Januarie 2014 gemaak toe oplettende lede van die publiek op sakke afgekom het wat elk ook sowat 25 kg vermoedelik kokaïen bevat het.
Op 31 Desember het 'n inwoner van Rheebok 'n sak opgelet toe hy vanaf sy balkon na die see gekyk het. Hy het hom na die strand gehaas en die sak gevind. Soos in die vorige gevalle, het die sak 25 pakkies bevat, vermoedelik ook dwelms.
Op Nuwejaarsdag 2014 om omstreeks 12:45 is op 'n sak afgekom tussen Klein-Brakrivier en Hartenbos. 'n Vakansieganger het die polisie ontbied en die sak, soortgelyk aan die ander wat gevind is, is aan die Georganiseerde Misdaadeenheid oorhandig.
Sedert die eerste vonds is sigbare polisiëring op Mosselbaai se strande opgeskerp en is die SAPD helikopter telkens oor Mosselbaai opgemerk.
Volgens die provinsiale woordvoerder van die SAPD, Kapt Malcolm Pojie, is die wit poeier na 'n forensiese laboratorium gestuur om te bepaal of dit dwelms is, en indien wel, watter dwelm dit is. Daar sal ook vasgestel word of dit ongeprosesseerde dwelms is al dan nie, wat die geraamde waarde van die vonds sal beïnvloed.
Enigiemand wat oor inligting beskik wat met die ondersoek kan help, word versoek om Ao Henkie Rhode van die Valke ondersoekeenheid te kontak by óf 044 802 1600 of 082 8509 822, óf Crime Stop by 08600 10111. Alle inligting sal streng vertroulik en positiewe inligting goed beloon word.

Lewensredders het heelwat meer as lewens gered toe hulle 'n houer met sowat 37kg kokaïen by Hartenbos uit die see gevis het. Foto: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'