MOSSELBAAI NUUS - Koffie is die produk wat die tweede hoogste verbruik in die wêreld het (naas olie) en tot my verbasing klop die gewildheid van die produk self dié van wyn.
Ons doop beskuit daarin.
Ons drink dit soggens nog voor ons behoorlik wakker is.
Ons kuier met 'n koppie boeretroos in die hand en gebruik dit as 'n energie-inspuiting laatmiddag of na 'n lang dag.
'n Koffiekenner, Ben Ferreira (38) woon op Groot-Brakrivier. Mossel Bay Advertiser-joernalis, Louise Karsten het by Ben gaan inloer om meer oor hierdie produk uit te vind.
Ben, vertel ons eers waar op Groot Brak woon jy?
Na 10 jaar in Uganda en drie jaar in Suid-Sudan is ek en my familie terug in Suid-Afrika waar ons nou op 'n kleinhoewe buite Groot Brak woon.
Jy is glo 'n koffiekenner. Is dit so, en hoekom sou jy jouself so beskryf?
Ek het beslis 'n groot liefde vir koffie en wanneer jy geïnteresseerd is in iets kan jy nooit te veel leer nie.
My tyd in Oos-Afrika het my baie geleer en ook waardering vir die produk gegee. Hoe meer jy met iets werk hoe meer besef jy niks is eenvoudig nie.
Ek dink ek weet hoe om 'n goeie koppie koffie te maak van die groenboon tot 'n cappuccino, maar as iemand my vra om tee te maak slaan ek sommer in 'n sweet uit, want hoe maak jy 'n perfekte koppie tee?
Vir hoe lank rooster jy al koffie en waar doen jy dit? Ook, hoe werk die proses?
Professioneel rooster ek al vir twee jaar koffie op Groot Brak.
Voor dit het ek op 'n klein 1kg-rooster geoefen, dit was pret om mee rond te speel, maar as ek moet eerlik wees het ek uit verveeldheid een Sondag in Suid-Sudan 'n paar groenbone in ons popcorn-masjien gesit en van daar net meer en meer begin speel.
Dit is absoluut 'n chemiese proses wat plaasvind.
Die verskillende aromas wat ontwikkel, word beïnvloed deur so baie elemente. In 'n groen koffieboon is daar, onder meer, gas, vog, suikers en olies so jy kan dink hoe reageer al hierdie elemente as dit onder hoë temperatuur geplaas word.
Ben Ferreira, besig om te doen waarvoor hy die liefste is.
Waar kry jy die koffie wat jy gebruik vandaan?
My koffielyn is gebaseer op my tyd in Oos-Afrika, so die meerderheid van my koffie kom van Oos-Afrika af.
My Uganda-bone verkry ek direk van koöperasies in Uganda. Dit gesê, ek het my portefeulje uitgebrei deur 'n verskeidenheid koffies in te bring van Suid- en Sentraal-Amerika.
Die verskillende bone maak skep geleentheid vir interessante en uitdagende roasting om die natuurlike geure en aromas van die bone uit te bring.
Wat maak jou opgewonde oor koffie?
Die sosiale faktor, koffie bring mense bymekaar, die chemiese ontwikkelingsproses en die uitdaging van al die betrokke elemente wat in die proses ingaan om daardie perfekte koffie god shot te maak.
Wat is jou mening oor kitskoffie?
Ek werk hard daaraan om mense te laat verstaan waarop hulle uitmis as hulle kitskoffie drink.
Vertel vir ons hoe maak jy die perfekte koppie koffie?
Elke koffieboon is omtrent 30% oplosbaar en net 20% van daardie vastestowwe is goeie geure so jy wil nie jou koffie minder as 20% oplos of meer as 20 % oplos nie.
So, hier is die resep vir 'n plunger (die mees algemene koffiemaker):
- Gebruik vars koffie (growwer maal vir 'n plunger en as jy 'n maler het, maal jy soos jy nodig het. Koffie bly langer vars in boonvorm.)
- Gebruik 'n ratio van 1 gram koffie vir elke 20 gram water. (Moenie kookwater gebruik nie, 92-94 grade is ideaal)
- Laat die koffie vir vier minute trek voor jy plunge.
- Geniet!
Wat is die moets en moenies van koffie?
Vars! Vars! Vars koffie is uiters belangrik. Meeste mense koop koffie wat al maande op die rak staan.
Die koffie is oud en het al hulle geur verloor dan raak mense moedeloos omdat dit nie sterk genoeg proe nie.
Koffie het nie regtig 'n vervaldatum nie, maar na so ses tot agt weke verloor dit al die geur en moenie jouself met kitskoffie straf nie.
Koffie of wyn?
Beslis koffie. Daar is dalk mense wat met my sal stry maar jy kan nie 'n dag sonder koffie begin nie, maar jy kan 'n dag sonder wyn begin.
Ben ken koffie en woon boonop op Groot Brak.
Waar kom jou liefde vir koffie vandaan?
Ons het begin om koffiemasjiene te versamel en daarmee saam was een van ons tydverdrywe in Uganda om te ontmoet vir 'n koffie, die meeste handelstransaksies, idees en planne het ook gebeur oor 'n koppie koffie. Die cappuccinos was altyd wow.
Meeste van ons vakansies oorsee was gebaseer op waar ons interessante, lekker koffieplekke kon vind en dan om na ander se koffiestories te luister.
Dis altyd vir my lekker om te hoor iemand word opgewonde om oor koffie te gesels, dis seker hoe ek klink, nou dat ek daaraan dink.
Hoe lank woon jy al op Groot Brak en hoeveel koppies koffie drink jy per dag?
Ons woon al so twee jaar hier en geniet dit baie. Dit was die perfekte plek vir my familie na ons tyd in Suid-Sudan. Ek geniet die gesegde, Slow living by choice, hoeveel beter nog om dit met 'n koppie koffie te geniet?
Ek drink heelwat halwe koppies koffie soos ek proe vir perfeksie, maar ek sal sê definitief twee tot drie koppies per dag.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Groot Brak-Rivier, Tuinroete nuus'