MOSSELBAAI NUUS - Die bekende Klipwerf-orkes het Saterdagaand gesorg dat Mosselbaaiers en hul gaste behoorlik die stadsaal se vloer vasgetrap het en dit alles om broodnodige geld vir drie organisasies in te samel.
Dit was veral die ouer garde wat met hul foxtrot, tango, quickstep en wals die jongklop onder die stof gedans het. Die vloer was nooit leeg nie en die gaste het selfs tydens die welverdiende orkes-breke, aangehou dans.
Die dans is die eerste nie-gholf geleentheid wat die Louis Oosthuizen 57-stigting gereël het ten bate van Leolan Akademie (vir kinders met
leeruitdagings), Kids With Cancer (plaaslike kinders wat met kanker gediagnoseer is) en die Louis 57 gholf-akademie se ontwikkelingsprogram (vir belowende gholfspelers wat andersins nooit aan diè sport blootgestel sou word nie).
Gholftoernooi
Die dans het deel uitgemaak van ‘n spesiale geldinsamelingsnaweek wat op Donderdag, 13 Julie met die Louis 57 liefdadigheidsuitnodingstoernooi by Pinnacle Point afgeskop het. Net 24 spelers is na hierdie unieke toernooi genooi. Wat die toernooi ekstra uniek gemaak het, is die feit dat Louis self drie putjies saam met elke vierbalspan gespeel het.
Spelers van die Vrystaat, Douglas, Patensie, Johannesburg (Sun International) en Kaapstad het oor hul voete geval om deel te wees van die geleentheid.
Volgens die organiseerder, Petrie Cronje, het die meeste van die spelers na afloop van die kompetisie hulself reeds tot volgende jaar se toernooi verbind.
Die volgende spesiale geldinsamelingsnaweek vind op 8 en 9 September weer op Mosselbaai plaas. Op Vrydag, 8 September vind die Drive 4 Charity-toernooi by die Mosselbaai-gholfbaan plaas en Arno Jordaan sal as gaskunstenaar optree. Op die Saterdag speel die gholfers op Pinnacle Point se baan en die kunstenaar wat hier sal optree, sal later aangekondig word.
Volgens Petrie was hy aangenaam verras oor die opkoms en heerlike kuier by Klipwerk. “Sonder die borge sou ons dit egter nie kon doen nie,” het hy gesê en die hoofborg, die ATKV (Schalk Cilliers) en die ander borge Hein en Michal Rehr, Munro Manor (Marika Thomatos) en Cobra Fuel (Dick Swanich) bedank.
“Dit is vir Louis en sy vrou Nel-Marè, wat die stigting in 2010 begin het, baie belangrik om in die gemeenskap terug te ploeg,” het Petrie gesê en bygevoeg dat hul betrokkenheid by bogenoemde drie organisasies hul manier is om dankie te sê vir al die ondersteuning wat hulle van die omgewing se mense kry, asook om ‘n verskil in mense se lewens te maak.
Belangstellendes wat aan die opkomende geldinsamelingsnaweek se gholf in September wil deelneem, kan vir Petrie (083 306 4396) kontak om hul plek te bevestig.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'