GROOT-BRAKRIVIER NUUS - ‘n Vierjarige seun van Wolwedans is tans in ‘n plaaslike hospitaal waar hy oornag vir waarneming gehou sal word, nadat ‘n volwasse vrou hom glo vier keer met ‘n mes toegetakel het.
Die polisie op Groot-Brakrivier is omstreeks, 16:15 vanmiddag, 12 April na ‘n toneel in Wolwedans ontbied waar hulle op die beseerde kleuter afgekom het.
“Die kleuter was, soos dit sy gewoonte is, by die bure se huis waar hy gereeld gaan kuier. Onbekend aan sy moeder, was die seuntjie vir ‘n groot gedeelte van die dag saam met ‘n 23-jarige vroulike inwoner van dieselfde huis.
"Sy het laatmiddag geroep dat hulle die kind moet kom haal, waarna sy hom deur die venster aan sy ma oorhandig het. Die seuntjie se ma het toe sy wonde bemerk,” berig die polisiestasie se kommunikasiebeampte, sers Laurianne Botha.
Botha het, in die afwesigheid van ‘n beskikbare ambulans, met die kleuter en sy ma na die Mosselbaai provinsiale hospitaal gejaag waar die seun tans versorg word.
Hy het oop wonde aan sy arm, op sy kop en twee oor sy rug.
Die 23-jarige vrou is in hegtenis geneem, voor die gemeenskap reg in eie hande kon neem en die wapen waarmee sy vermoedelik die kleuter beseer het, is in in die polisie se besit.
‘n Saak van poging to moord word ondersoek.
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'