MOSSELBAAI NUUS - Die skielike heengaan van een van die groot geeste wat kleinsake-ondernemings in Mosselbaai stukrag gegee het, Cornelius Müller op Vrydag, 10 November, het as 'n groot skok vir baie mense wat goed met hom bekend was, gekom.
Cornelius se begrafnis was Donderdag vanuit die NG Kerk Mosselbaai-Suid.
Dit blyk dat hy voornemens was om verlede Vrydag 'n inbetaling by die munisipaliteit te gaan doen.
Sy eggenote, Annette, het bekommerd geraak toe hy na 'n wyle nie van hom laat hoor nie, en het by die munisipaliteit navraag gedoen.
Cornelius het waarskynlik weens natuurlike oorsake in sy voertuig in die munisipale parkeerarea omgekom.
Een van die persone wat baie nou met hom saamgewerk het, Joubert Coetzee, sê die nuus van Cornelius se heengaan het as 'n baie groot skok gekom.
"Wat ek altyd van hom sal onthou, was dat hy altyd uit sy pad gegaan het om ander mense te help en ook dat hy 'n baie gelowige persoon was".
"Ter nagedagtenis aan Cornelius Müller wil ons as die Müllerkomitee aan hom eer bewys as 'n organiseerder en vriend met baie positiewe leierseienskappe.
"Hy het die samelewing gedien as lid van vele komitees, onder meer het hy met groot ywer en entoesiasme vanaf 1980 tot 1997 op die direksie van Tuinroete Agri gedien onder voorsitterskap van mnr Gert du Preez en later mnr Piere le Roux.
"In 1988 is 'n Müller-komitee gestig met hom as voorsitter. Die daaropvolgende Müllerfees van Januarie 1990 asook die bekendstelling van 'n uitgebreide Müllerstamboek was 'n groot sukses.
"Met die voorbereiding van die 2010 fees het hy weer die leisels opgeneem en onder sy leiding is die Müllerfees daardie jaar op Kleinberg gehou."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'