MOSSELBAAI NUUS - Klein-Brakrivier VLV het met hulle 2023-werksaamhede op Woensdag, 18 Januarie met vuur en vlam weggespring.
Die eerste geleentheid was onder die Opvoedings- en Kultuurvaandel, met 'n vol saal lede en gaste wat vreeslik uitgesien het om weer saam te kuier.
Elke portefeulje-sameroeper het 'n pragtige tafel gedek wat haar studierigting uitbeeld sodat gaste en nuwe lede alles visueel kon waarneem.
Die hoogtepunt van die oggend was die optrede van Natasha Joubert, die eregas, sangeres en motiveringspreker. Sy het met haar sang en gesprek die geestesweerbaarhede soos geloof, kennis, keuses en die hantering van krisisse behandel wat al die teenwoordiges gemotiveer en geïnspireer het. Natasha het die verrigtinge geopen, liedjies onder luide applous gelewer en sy het ook 'n gepaste uitstalling gedoen.
Die fokus van die Opvoeding- en Kultuur-portefeulje was 'n oorsig van die ontstaan en geskiedenis van die Vroue Landbou Organisasie met klem op hulle relevansie vir vandag; die geskiedenis van en verbintenis met die Wêreld Bond van Plattelandse Vroue, Jubileumhuis se oorsprong, geskiedenis, ligging; asook die doelstellings van die organisasie.
Tak erelidmaatskap-sertifikate en -balkies vir jarelange verbintenis tot die organisasie, is aan Rina Taljaard en Tiebie van der Walt oorhandig. Hester Krige en Ina Greeff het reeds met die 2022-afsluiting hulle erelidmaatskap ontvang.
Ina Greeff met haar erelidmaatskap-sertifikaat
Daar was ook 'n kort oorsig van osteoporose – hierdie jaar gaan die tak elke maand bewustheid van 'n spesifieke siektetoestand benadruk.
- VLVK-tema vir 2023: Die uitdaging van verandering / The challenge of change
- VLVK-projek: Bome vir ons kinders / Trees for our children
- Die Boom van die jaar: Vanwykshout / Olive Sagewood
- Die Voël van die jaar: Woudpapegaai / Cape Parrot
Vir meer inligting oor die bedrywighede van die Klein Brak VLV-tak, of om aan te sluit of by te woon, kontak vir Lynette (083 448 5548) op WhatsApp by 082 928 5624.
LINKS: Tiebie van der Walt ontvang haar erelidmaatskap-balkie.
Retha Horn van Klein Brak VLV en die gasspreker, Natasha Joubert.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'