MOSSELBAAI NUUS - Lede van Klein-Brakrivier VLV-tak (en ‘n klein groepie van Midbrak Tuinbouklub), was onlangs op ‘n heerlike leersame oggend-uitstappie om meer oor Hoërskool Outeniqua se akwaponika-tonnels te leer.
Hoërskool Outeniqua op George is al meer as ‘n eeu aan die gang en is as innoverende baanbrekers en entrepreneurs bekend.
Hierdie tonnels onder die bestuur van Riaan Truter en onder leiding van passievolle Landbou Wetenskap onderwyser, Cameron Stronach, verskaf aan Landbou-leerders noodsaaklike praktiese ervaring. Stronach het saam met ‘n groepie van sy leerders, Dillan Barnard, Lujah Diederiks en Tristan Kitching verduidelik hoe hierdie projek werk.
‘n Akwaponiese-stelsel benodig min spasie en geen landbougrond nie. Dit is ‘n intensiewe boerdery waar groente digter geplant kan word en ‘n hoër groente opbrengs kan lewer as wat uit grond-verbouing gekry kan word. Die rede hiervoor is dat voedingstowwe direk aan die wortels verskaf word.
Dit is voedselproduksie met baie effektiewe waterbenutting omdat water in ‘n geslote sisteem sirkuleer – die naaste wat mens aan droogtebestand kan kom.
Akwaponika is om met behulp van die hersirkulering van water ‘n gebalanseerde ekosisteem boerdery te skep deur hidroponika (groente kweek sonder grond) en akwakultuur (visboerdery) simbioties te integreer.
In kort, die visse voorsien ammoniakryke uitskeidings, bakterieë verander die ammoniak na nitriete en nitrate wat die nodige voedingstowwe vir die plante verskaf, en dan suiwer die plante weer op hulle beurt die water vir die visse se gebruik.
Stronach beklemtoon dat akwaponika nie net volhoubaar en omgewingsvriendelik (organies geproduseer met min afvalstowwe) is nie, maar inderdaad die toekoms vir gesonde voedsel produksie.
Dillan Barnard, Lujah Diederiks, Tristan Kitching en Cameron Stronach van Hoërskool Outeniqua.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’