Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Vroue uit die omgewing het op Dinsdag, 27 Februarie in rooi opgedaag vir 'n propvol VLV-program by die Reebok-gemeenskapsaal.
Cecelia Pieterse se kunsgroepie het gewys hoe "kunstenaars" kan saamwerk en 'n saal optower: daar was tafeldoeke en blomme en harte en koek en tee wat alles saamgespan is om die Valentynstema te versterk.
Die program het praktiese demonstrasies, 'n inspirerende voorlesing en riglyne vir aspirerende digters ingesluit.
Die VLV-voorslagvrou wat egter verdien om uitgelig te word, is Engela Buys, vise-voorsitter, kompetisie-koördineerder en lid van die kunsgroep.
Engela is 'n vlytige vrou wat nooit stilsit nie. Vir die vorige vergadering het sy gewys hoe om 'n wolserp met 'n naaimasjien te maak, en hierdie keer het sy gedemonstreer hoe om 'n ou T-hemp vinnig en maklik in 'n inkopiesak te verander.
'n Hele groep vroue het ingespring en gou onder Engela se vaardige hand hulle inkopiesakke gemaak.
Engela se kompetisietafel het ook behoorlik gekreun onder Peppermint Crisp-terte, pastaslaai, pennesakkies, teddiebere, hekel- en borduurwerk, fotografie en blomrangskikkings.
Een van die lede druk besig om 'n ou T-hemp in 'n inkopiesak te verander.
En dan het Engela ook so sonder om te sug materiaalharte gesny vir die teetafel, rooi rosette vir al die lede en besoekers, en pryse vir gelukkige wenners gemaak.
Engela is beslis 'n staatmaker en aanwins vir hierdie organisasie.
Vir al die vroue daar buite wat ook nie kan stilsit nie, of wie gereed is om nuwe dinge te leer en aan te pak, kom kuier gerus volgende keer op 27 Maart saam.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'