MOSSELBAAI NUUS - Anina Meiring en Minette van Zyl van Kansa, George was die gassprekers tydens Klein-Brakrivier VLV se Januarie-byeenkoms.
Hierdie passievolle vroue het gesels oor Kansa se werk en vertel van die behoeftes van pasiënte en waarmee die publiek kan help.
Anina het onder meer uitgebrei oor die jaarlikse Shavathon.
In 2018 word hierdie waardige veldtog vir die 15de agtereenvolgende jaar regoor die land aangebied.
Soos altyd staan Groot Brak nie 'n tree terug nie en oud en jonk kan 24 Februarie vanaf 09:00 solidariteit met kankeroorwinnaars kom wys by Black Vanilla.
Die skeer en sproei van hare (R50 vir volwassenes en R25 vir kinders jonger as 12 jaar), het 'n simboliese betekenis geword ter ondersteuning van kankerpasiënte en kankeroorwinnaars, terwyl dit ook help om die spanning van mense wat hulle hare tydens die behandeling van kanker verloor het, te verminder.
Verskuil agter Shavathon lê die wrede realiteit van hierdie verskriklike siekte.
Daar moet nie vergeet word dat kanker elke mens op die een of ander manier raak, en dat betrokkenheid die geleentheid bied om 'n verskil te maak nie.
Minette het verder vertel van die onbaatsugtige Kansa-sorgtuiste in George en die wye verskeidenheid van ondersteuning wat hulle aan weg-van-die-huis-kankerpasiënte, hulle gesinne en geliefdes bied.
Vir meer inligting hieroor besoek www.cansa.org.za
Engela Buys, visevoorsitter en sameroeper van die Januarie-vergadering wys aan 'n gefassineerde groep hoe om 'n wolserp met 'n naaimasjien te maak.
Bestuur
Klein-Brakrivier VLV se bestuur vir 2018 sien as volg daaruit:
Hester Krige (voorsitter), Engela Buys (visevoorsitter en kompetisie-sameroeper), Ria van Straaten (sekretaris), Cecilia Pieterse (tesourier en kuns-sameroeper), Dee Disney (gesondheid-sameroeper), Marietjie Bothma (landbou-sameroeper), Miens Willers (leefstyl-sameroeper), Elrina van Zyl (openbaresake-sameroeper), Leatitia Steyn (opvoeding-sameroeper), Rita Burger (beoordelaar) en Lydie Terblanche (media-koördineerder).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'