MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai Kunstevereniging bied op Donderdag, 13 April, 'n klavier- en orrelduo-musiekkonsert met hoogtepunte uit die Carmen-opera aan.
Die vertoning begin om 19:00 en vind in die Mosselbaai NG-moedergemeente plaas.
Die klavier-orrelduo, Dalene Brits en Gerrit Jordaan, is bekende en bekroonde musici in die Tuinroete. Dalene het aan die Universiteit van Kaapstad studeer en verhuis in 1981 na George waar sy die George Mannekoor begin en vir 30 jaar afgerig het.
Sy was ook vanaf 1982 tot 2012 die orrelis van die George Tuinedal-gemeente met gereelde uitvoerings deur dié kerkkoor.
Sy het veral bekendheid verwerf vir haar orrel-improvisasies, komposisies en koorverwerkings. Die ATKV skryf gereeld van haar werke voor vir hul jaarlikse nasionale skoolkoor-kompetisies. Van haar musiek is gepubliseer in verskeie bundels en sy het verskeie eretoekennings ontvang.
Gerrit Jordaan studeer orrel onder leiding van Stefan Zondagh en Wim Viljoen en volg verskeie orrelkursusse en meestersklasse in Europa.
In sy studentejare was hy ook lid van Obelisk, 'n groep wat hulle beywer vir nuwe Suid-Afrikaanse kunsmusiek. Gerrit het bundels met orrelverwerkings van verskeie Suid-Afrikaanse komponiste saamgestel, getoonset en uitgegee.
Deure open om 18:00 en toegang beloop R150 vir nie-lede en R130 vir lede.
Besprekings is noodsaaklik en kan gedoen word deur 064 963 9962 te skakel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’