Update
MOSSELBAAI NUUS - Die familie op Sonskynvallei waar Theresa (Tess) Vister (43) in 2013 wreed vermoor is, was geskok oor die vonnis wat haar moordenaars, Adrian White (26) en Eddie Jansen (50) op Vrydag, 11 Februarie in die Mosselbaai-streekhof opgelê is.
White en Jansen het voor streekslanddros Neels Nortjé verskyn.
White is van 'n swaarder vonnis gered danksy die feit dat hy 'n minderjarige was ten tye van die moord. Die moord is gepleeg vier maande voor sy 18de verjaarsdag.
Nortjé het dus geen ander keuse gehad as om White onder die Kinderwet te vonnis nie, wat uit die aard van die saak 'n ligter vonnis sou wees.
White is skuldig bevind aan die moord op Vister en Jansen is skuldig bevind dat hy White na die moord gehelp het om die daad te verbloem. Jansen was dus glo nie aandadig in die moord op Vister nie, maar het wel geweet dat haar lyk onder 'n bed in sy huis versteek is.
LEES MEER: Twee in hof vir Sonskynvallei-moord
Dit was egter White wat Vister doodgemaak het. Volgens die staat het White nog nooit met die waarheid na vore gekom nie en het hy ook verskeie kere sy getuienis verander.
Staatsaanklaer adv Michelle Weyers het tydens haar slotbetoë gesê die beskuldigdes toon geen berou nie.
Vonnisoplegging
Omdat White 17 jaar oud was ten tye van die moord, is hy onder die Kinderwet gevonnis, hoewel hy vandag 26 jaar oud is.
Nortjé het tydens vonnisoplegging gesê hy sou White swaarder wou straf indien die wet hom toelaat. Hy is tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan vyf jaar opgeskort is vir vyf jaar.
Jansen is tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis vir sy aandeel in die voorval. Nortjé het gesê hy het dit in ag geneem dat Jansen reeds 'n vonnis van 20 jaar uitdien op 'n ander skuldigbevinding.
Die Mossel Bay Advertiser het in 2018 berig oor die ontvoering van 'n 45-jarige vrou van Elangeni in KwaNonqaba buite haar werkplek in die Langeberg-winkelsentrum.
LEES MEER: Ontvoerder ook moordverdagte
Die slagoffer is deur Jansen ontvoer en hy het op die N2 met haar weggejaag, haar met 'n mes gedreig en van haar selfoon en R100 kontant beroof voor sy daarin kon slaag om uit die voertuig te spring.
Jansen het haar egter met die bakkie probeer omry en bo-oor haar voet gery voor hy op 'n plaaspad in die Mosselbaai-omgewing weggejaag het.
Vister se ouers en haar dogter was teenwoordig tydens die vonnisoplegging.
Hulle het hul misnoeë uitgespreek en het gesê hulle het op swaarder vonnisse gehoop.
Theresa Vister se liggaam is onder 'n bed in hierdie huis wat aan Eddie Jansen behoort het, gevind.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'