MOSSELBAAI NUUS - Die bestuurder van 'n minibustaxi wat leerders vervoer is vandeesweek met 34 kinders in die voertuig voorgekeer .
Mosselbaai se munisipale verkeersafdeling het tydens 'n veldtog om die gemeenskap se klagtes op te volg in Sampsonstraat die taxi voorgekeer en boonop bevind dat die bestuurder van die voertuig, wat nie die eienaar is nie, ook nie oor die nodige voorgeskrewe permitte beskik om die publiek te vervoer nie.
Die voertuig is onmiddellik van die pad gehaal en is in George by die provinsiale fasiliteite geskut.
By nadere ondersoek het dit geblyk dat die voertuig nie behoorlike remme gehad het nie en dat die bande daarvan afgeloop en dus onwettig was.
Die bestuurder van die taxi is boetes van 'n totaal van R22 500 opgelê, onder meer R10 000 omdat die voertuig oorlaai was. Vir elke passasier meer as die toegelate getal word per persoon 'n boete gehef.
Die munisipale woordvoerder, Colin Puren het die munisipale verkeersbeamptes vir hul voorkomende optrede geloof en benadruk dat die munisipaliteit erns het met klagtes wat deur die gemeenskap geopper word.
"Hierdie voorval is weer eens die bewys dat daar 'n omgeekultuur by die Mosselbaai-munisipaliteit heers en dat ons die belange van ons gemeenskap baie hoog ag."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'