GROOT BRAKRIVIER NUUS - In Wolwedans op Groot-Brakrivier, begroet die strate mens reeds vir etlike jare met dieselfde gesig - kinders wat doelloos ná skool in die woongebied ronddwaal.
Die meerderheid wonings in die gebied is nie omhein nie en die erwe is klein. Die kinders se veiligheid is ook deurgaans in gedrang omdat motoriste soms roekeloos bestuur en die meeste kinders nie 'n ander keuse het as om in die pad te speel nie.
Deesdae egter, is die woongebied se strate stil. Wolwedans en Greenhaven se kinders baljaar nou smiddae op die nuwe speelterrein.
Ry jy daar verby, enige tyd na skool tot sononder, dan speel 'n swetterjoel kinders - kleuters, laerskool- en hoërskoolkinders op die nuwe swaaie.
Daar is elke middag 'n groep wat om-en-om op die rondomtalie draai en die wipplank is nooit leeg nie. Vroeër was daar wel 'n speelterrein, maar die toerusting het uit hout bestaan en vandaliste het dit oor die jare beskadig en gesteel.
Wyksraadslid, Cliffie Bayman was aan die stuur van die projek om 'n nuwe speelpark vir die kinders te laat oprig.
Die Mosselbaai-munisipaliteit het die fondse hiervoor, wat meer as R80 000 beloop, voorsien. Die nuwe toerusting is van kwaliteit materiaal gemaak wat nie maklik sal breek nie.
Bayman beaam dat die kinders geen ander plek gehad het, as die woongebied se strate om in te speel nie.
"Voertuie jaag soms in die gebied en ek het gevoel ons moet na iets kyk wat die dorp se kinders uit die strate sal hou." Bayman sê afgesien van die feit dat die kinders nou iets het om te geniet, word daar ook nou na hulle veiligheid omgesien.
'n Laerskoolmeisie, Landi Mars sê sy en haar maats speel elke middag in die parkie.
"Ons het nie 'n televisie by die huis nie. Ek kry my maats by die parkie en dan swaai ons of ons klim op die klimraam." Haar ma, Jolene sê die parkie het hul lewens verander.
"My kinders het nou ook 'n lekker plek om te speel en hulle is sommer vroliker na skool. Ek is ook nie meer so bekommerd oor waar hulle speel nie, en wanneer dit etenstyd raak, weet ek waar om hulle te gaan soek."
Daar is smiddae skaars plek vir 'n muis op die rondomtalie.
Wolwedans se kinders het opgewonde toegekyk terwyl die nuwe klimrame en swaaie opgerig word.
Beurte maak is aan die orde van die dag omdat daar een wipplank in die speelpark is. Die wipplank is nooit leeg nie.
'Ons bring jou die nuutste Groot Brakrivier, Tuinroete nuus'