MOSSELBAAI NUUS - Kaptein Geoffrey Gordon van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe op Mosselbaai, het op 15 Desember 200 kinders wat geaffekteer word deur geweld en seksuele misdrywe se harte verbly deur 'n groot partytjie kompleet met springkastele en al by eenheid aan te bied.
Die mandaat van die eenheid is om vroue en kinders se veiligheid te beskerm en misdaad hok te slaan.
Kaptein Jacky Rezant, forensiese maatskaplike werker by die eenheid, werk intensief met elke kinderslagoffer en berei hul voor vir die hofproses waartydens sy elke kind persoonlik bystaan.
Pastoor Zaida Swart, skakelbordbeampte en ontvangsdame, werk reeds 10 jaar by die eenheid. "My hart breek elke keer in 'n 1000 stukkies as 'n kind verkrag word.
"Die ergste voorval wat ek beleef het, was toe 'n vyfjarige kind so brutaal verkrag is dat haar baarmoeder verwyder moes word.
"Ek bid en pleit in die naam van Jesus; dat die verkragter en mishandelaar asseblief moet ophou. Ek bid dat elke mens sal terugkeer na ons Skepper en sal doen wat goed is."
Pastoor Swart het genoem hoe dankbaar die eenheid teenoor die borge is wat die partytjie moontlik gemaak het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'