Breaking News Update
MOSSELBAAI NUUS- ’n Vyf-en-twintigjarige man, wat vandag sy eerste hofverskyning in die Mosselbaai-landdroshof gemaak het nadat hy in ‘n gesamentlike operasie om seksoortreders aan die pen te laat ry vasgetrek is, staar tot dusver 44 aanklagte in die gesig.
Meer aanklagte sal ná verwagting op die klagstaat gevoeg word.
Die ondersoekbeampte in die saak is Kaptein Franco Bestbier, bevelvoerder van die Mosselbaai se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe. Hier stap kapt Bestbier na die aanhoudingselle saam met ao Soretha van Zyl, kort nadat hulle die verdagte by sy woning in hegtenis geneem het en sy regte aan hom voorgehou het. Foto: Louise Karsten
Die verdagte is Vrydag by sy huis op Mosselbaai in hegtenis geneem as deel van 'n internasionale ondersoek in die Wes-Kaap na vervaardigers, verbruikers en verspreiders van kinderpornografie.
Die Mosselbaaier is reeds die vierde vermeende seksoortreder wat in dié provinsie in hegtenis geneem is in ’n gesamentlike operasie deur die polisie se reeks- en elektroniese misdaadeenheid en die Homeland Security Investigations van die Amerikaanse Ambassade.
Hy is ooks die agtste verdagte, wat sedert November as deel van dié nasionale landswye ondersoek vasgetrek is.
Die polisieondersoek duur voort.
Die saak is uitgestel tot 23 Februarie vir ‘n formele borgaansoek en die verdagte bly in aanhouding.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’