Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Sestien kleuterskole het vanjaar deelgeneem aan die jaarlikse kunskompetisie wat as deel van die Diasfees, wat vanjaar in sy nuwe baadjie as die Dias- en Portfees aangebied word.
En vanjaar, meen die beoordelaars, was die kuns werklik iets besonders.
"Die standaard was vanjaar besonders," sê Pearl van den Berg en die ander beoordelaars, haar dogter Annerien en Bradley Michaels beaam dit.
Vanjaar was die tema Mosselbaai: Kwêla Dorp van die Jaar en die jongspan moes al hule kreatiwiteit inspan om herwinbare items te gebruik om die kunswerke te maak.
Met Dinsdag, 30 Januarie se beoordeling, het die beoordelaars lank oorleg gepleeg om die wenners te kies.
Vanjaar het Juweeltjie-kleuterskool met die louere weggestap. In die tweede plek was Junior Academy met Curious Kids in die derde plek.
Een van die pragtige prentjies.
Op meriete is daar vanjaar ook 'n vierde plek toegeken aan Bimbo-kleuterskool.
Die kunswerke was inderdaad indrukwekkend en groot aandag is aan fynere detail gegee om driedimensionele beelde te skep.
Die Mosselbaai-munisipaliteit fasiliteer jaarliks die projek en verskaf basiese materiaal waarmee die kleuters kan werk.
Volgens Bradley Michaels was een van die groot maatstawwe om vanjaar se wenner te bepaal, die mate waarin die kinders se kreatiwiteit en deelname aan die projek sigbaar was.
Beoordelaars Annerien van den Berg, Bradley Michaels en Pearl van den Berg was dit eens dat die inskrywings vanjaar 'n hoë standaard gehandhaaf het.
Hy het ook kleuterskole aangemoedig om hulle oë oop te hou vir allerhande items wat in kuns omskep kan word.
"Optelgoed is hougoed. Gaan kyk in die veld en oraloor vir goed wat in kuns omskep kan word soos 'n blikkie of 'n eierdop. Dit kan die kunswerk net soveel meer karakter gee."
Die wenners is gisteraand tydens die openingskonsert in die Mosselbaai-stadsaal aangekondig deur die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, minster Anroux Marais.
Die driedimensionele beeld het die Goods Shed uitgebeeld.
Vat 'n strooitjie en siedaar - die Diaz Waterpark.
Elke wenner het 'n kontantprys vir die bepaalde skooltjie ontvang.
ARTIKEL & FOTO'S: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'