MOSSELBAAI NUUS - Die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe ondersoek 'n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat 'n driejarige seun van Mosselbaai op Maandag, 30 April ernstige brandwonde opgedoen het.
Volgens die polisie is 'n klagte om ongeveer 16:00 ontvang dat die slagoffer se pa hom na bewering met warm vloeistof gebrand het.
By die polisie se aankoms was die 27-jarige verdagte reeds weg. 'n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die verdagte in 'n rusie met die slagoffer se oupa betrokke was.
Volgens ooggetuies het die verdagte 'n pot waarin die slagoffer se ma kos gekook het, gegryp en na die bejaarde man geslinger. Die kind was in dieselfde vertrek en is in die proses gebrand.
Die polisie sê hy het brandwonde aan die een kant van sy gesig en lyf opgedoen.
Dit is intussen bevestig dat die seun in 'n plek van veiligheid geplaas is, hangende die ondersoek.
Teen die ter perse gaan was die verdagte steeds op vrye voet.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'