MOSSELBAAI NUUS - 'n Unieke vonds in 'n antieke winkel op Mosselbaai, het bygedra tot die rekonstruksie van die werke van 'n talentvolle fotograaf, Sara Buijskes (1886 - 1970).
Die "soeker" agter dié vonds, is Michael de Nobrega, 'n inwoner van Bayview, en 'n gereelde besoeker van antieke winkels - iets waarvoor hy 'n passie het.
De Nobrega en Carol Hardijzer het wat hulle van Buijskes se lewe en haar werke kon uitvind in 'n artikel op die webblad The Heritage Portal uiteengesit. Hardijzer is tans besig met navorsing oor Suid-Afrikaans gebaseerde fotograwe van voor 1910 en het ook een van die grootse privaat fotoversamelings in Suid-Afrika.
De Nobrega het in 'n winkel in Blandstraat rongekrap toe hy op byna 200 large format swart en wit foto's afgekom het.
Hy het 'n gevoel gehad dis 'n belangrike vonds en die hele spul daar en dan gekoop.
Hy was besig met navorsing aanlyn toe hy op 'n artikel deur Hardijzer afkom waar hy vir Buijskes genoem het. Van daar het hulle kontak gemaak en saamgespan vir die bogenoemde artikel.
Natuurlike aanvoeling vir fotografie
Hoe die werke in Mosselbaai opgeëindig het is onduidelik, aangesien Buijskes in Johannesburg gebaseer was, maar die twee is dit eens: Buijskes se werke het nie die erkenning in Suid-Afrika gekry wat dit verdien het nie, en sy het 'n natuurlike aanvoeling vir fotografie gehad.
Volgens hulle het sy talle welbekende Suid-Afrikaners van daardie tyd op foto's vasgevang, insluitend Erich Mayer (Suid-Afrikaanse kunstenaar), dr Tienie van Schoor, Pieter de Waal (omroeper), dr Arthur Bensusan en dr William Nicol, Genl JC Kemp, Genl Piet Grobler and CM van Heerden.
Sy was 'n tweede-generasie Suid-Afrikaner. Haar Nederlandse oupa, Gerrit Buijskes, het in die Kaap aangekom, waar haar pa in 1848 gebore is. Sara self is in Kimberley gebore en was op Wellington op skool in die destydse Huguenot High School for Girls.
Die skrywers sê teen die tyd van haar dood het Sara 64 jaar van professionele fotografie voltooi. Haar nasate het biografiese inligting, koerantuitknipsels, familiefoto's en meer met De Nobrega gedeel wat ryklik tot die skryf van hul artikel bygedra het.
Vir die volle artikel, lees A remarkable Johannesburg-based female portrait artist: Sara Buijskes (1886 - 1970) op The Heritage Portal.
Michael de Nobrega se motor buite die winkel waar hy die foto's ontdek het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’