Na wat berig word, hou die wrak geen verdere besoedelingsgevaar vir die Tuinroete in nie, maar die Department Omgewingsake sal steeds die kuslyn monitor.
Geen besoedeling is sedert 14 Augustus deur die departement gerapporteer nie.
Reddingswerkers het vir dae aaneen volstoom gewerk en het omstreeks 11:20 op Saterdag, 17 Augustus, te midde van westelike wind van tot 40 knope en deinings van tot agt meter, daarin geslaag om die vragskip weer vlot te maak. Die sleepboot, SMIT Amandla, het die Kiani Satu die diepsee in gesleep. Na omtrent 70 seemyl het dit duidelik geword dat die vragskip water inneem en sou sink.
Swaar vrag
Die skip het aanvanklik naby Buffelsbaai gestrand met 330 ton swaar brandstof-olie en 15 000 ton rys aan boord. Daar is nie eenstemmigheid oor die presiese tonnemaat olie wat wel uit die skip gelek het nie. Verskeie olie-besmeerde pikkewyne is in die onmiddellike omgewing van die gestrande skip en in die Mosselbaai omgewing gered en behandel.
Mosselbaaiers word versoek om enige seelewe wat hulp benodig na SAPREC in die Mossdustria area te verwys deur Carol Walton by 082 3643382 te kontak.
Omgewing
Skoonmaakwerk word sedert Maandag, 19 Augustus, in die omgewing waar die skip gestrand was in 'n strook van sowat 4km uitgevoer en sal na verwagting nog weke duur. Oliebesmette sand word van die strand verwyder.
Die Goukamma Natuurreservaat en omliggende bewareas is vir die publiek heropen, maar besoekers word gemaan om daarop te let dat opruimingsingswerk voortduur.
Esmeralda Schiffahrts, die Duitse eienaars van die MV Kiani Satu, het blykbaar volle aanspreeklikheid vir die berging geneem en sal deur hul versekeraars die koste van die berging ten volle delg.
Francois Louw van SANCCOB berig 217 seevoëls is sedertdien behandel, onder andere 51 pikkewyne, 165 malgasse en 'n witbors visvanger.
Volgens SAPA het die gesamentlike bestuursentrum verantwoordelik vir die berging van die Kiani Satu inwoners aan die Suid-Kaapse kus vir hul ondersteuning en donasies bedank.
Hooggeregshof
Dit het intussen bekend geword dat die bemanning van die vragskip deur die Wes-Kaapse hooggeregshof verbied is om die regsgebied van die hof te verlaat. 'n Lang lys dokumente, insluitend logboeke wat betrekking het op die skip en die vrag, kon ook nie die land verlaat nie.

Die MV Kiani Satu het vroegoggend op 8 Augustus naby die Goukamma Natuurreservaat gestrand. Dit is weer vlot gemaak maar het in die diepsee 110km van Buffelsbaai vergaan nadat dit water begin inneem het terwyl dit op sleeptou was.Foto: Maritime Bulletin
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'