MOSSELBAAI NUUS - Op Mosselbaai is een van die mees geliefde feestydtradisies die jaarlikse byeenkoms in die Harry Giddey Park waar die Kersfeesliggies in die sentrale sakekern aangeskakel word.
Vanjaar vind die geleentheid op Saterdag, 9 Desember, plaas.
Lede van die gemeenskap word versoek om sommer al teen 17:30 in die park byeen te kom waar stalletjies beskikbaar sal wees om te ete en te drinke te verkoop.
Stalletjies sal deur onder meer buurtwagte bedryf word as deel van hulle fondsinsamelingsaktiwiteite.
Hoewel daar sitplek in die park beskikbaar is en ook addisionele stoele uitgepak sal word, is dit raadsaam – veral vir die laatkommers – om 'n kampstoel, kombers of kussing saam te bring om op te sit. Die program begin amptelik om 18:30.
Verskeie geloofsleiers en plaaslike kunstenaars neem deel aan die program met die fokus op die Kersboodskap. Soos in die verlede sal daar ook samesang van Kersliedere wees.
By dié geleentheid word daar ook as 'n reël 'n toewydingsgebed gedoen vir lede van die nooddienste, wat die Mosselbaaise gemeenskap bedien aangesien hoë eise aan hulle gestel sal word gedurende die vakansieseisoen.
Volgens beplanning word die feesliggies op die laatste 20:15 deur die uitvoerende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé aangeskakel.
Tradisioneel word daar tydens die Liggiesfees vir die nooddienste 'n toewydings-gebed gedoen met die oog op die feesseisoen.
Verskeie geloofleiers neem deel aan die program, waar saamgebid word.
Shaye-Lee Agulhas tydens ‘n lofdans by verlede jaar se Liggiesfees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’