MOSSELBAAI NUUS - Plaaslike kerke het reeds in aanloop tot die Covid-19-virus se opwagting in Suid-Afrika, begin planne maak oor hoe om die situasie rakende byeenkomste te benader, nadat dit geblyk het afsondering wêreldwyd die hoogsaansteeklike virus se verspreiding vertraag.
Met President Cyril Ramaphosa se aankondigig van 'n nasionale ramptoestand Sondagaand, 15 Maart, moes hierdie konsepgesprekke vinnig in 'n werkbare plan omgeskakel word, veral met betrekking tot die verbod op byeenkomste van meer as 100 persone.
Pastoor Leon Prinsloo, streeksvoorsitter van die AGS en die leierleraar van die AGS Greenhaven in Groot-Brakrivier, het by navraag gesê dat alhoewel verskeie kerke besluit het om nie byeenkomste te hou nie, gemeentes in die streek in kleiner groepe byeen sal kom. "Van ons gemeentes is alreeds klein en daar waar gemeentes wel groter is en meer lidmate het, sal oorweeg word om meer, kleiner byeenkomste in verskillende lokale te hou."
Hy het egter gesê dat planne eers geïmplementeer sal word indien dit baie goed deurdink en effektief georganiseer is.
Pastoor Prinsloo was ten tye van die Mossel Bay Advertiser se navraag, in Kaapstad vir die AGS van Suid-Afrika se leierskapforum (NLF) se vergadering, waar verskeie inisiatiewe in diepte bespreek is. Volgens 'n persverklaring uitgereik deur die kerk se nasionale kantoor, word liturgiese praktyke soos die waterdoop en nagmaal opgeskort tot verdere kennisgewing. Dié wat nie met fisieke aanraking gepaard gaan nie, soos die toewyding van babas, huweliksbevestigings, begrafnisse en gebed vir siekes, wel sal voortgaan.
In die verklaring word 'n beroep gedoen om lidmate te sensiteer wat higiëne betref, asook om sosiale gedrag aan te pas soos om handdrukke en broederlike omhelsing te vermy.
Konferensies, Paasfeesvieringe, asook streeksbesoeke is gekanselleer. Die kerk het ook gesê dat hulle tegnologie, waar moontlik sal inspan om die Woord te bedien.
'Kerkgeloof na huisgeloof'
Dominee Gerrie van Deventer van die NG Moedergemeente Mosselbaai, het by navraag gesê dat hulle gemeente na die President se afkondiging nie meer byeenkomste sal hou nie, maar dit hulle sal steun of sosiale media en ander digitale platforms. "Ons uitgangspunt is om te beweeg van kerkgeloof na huisgeloof. Die fokus is nou op kreatiewe maniere om mekaar te ondersteun in hierdie tyd."
Een van hierdie inisiatiewe, sê ds Van Deventer, is om ouer mense wat nie winkels kan besoek nie, met inkopies te help.
"Ons is baie positief om hierdie krisis in 'n geleentheid te omskep om ook in ons gemeenskap te kan help waar nodig."
Ook New Life Church in Heiderand het vir eers alle byeenkomste gestaak. Die gemeente sal ook gebruik maak van WhatsApp en ander sosialemediaplatforms om die Woord te bedien in oudio- of videoformaat.
Die kerk sal wel Sondae oop wees vir diegene wat voorbidding benodig, alhoewel groot groepe nie byeen sal wees nie. Met die oog op die langer skoolvakansie, word daar beplan om ouers toe te rus met bedieningsmateriaal gerig op kinders.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'